Kaapstad bemagtig haweloses met nog ‘n skuiling met 300 beddens

Lees ook :

Foto: Stad Kaapstad

WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het Maandag met die opening van sy vyfde Safe Spaces-skuiling nog 300 beddens vir hawelose persone beskikbaar gestel. Burgemeester Geordin Hill-Lewis het die skuiling in Groenpunt amptelik oop verklaar.

“Kaapstad maak ‘n ongekende belegging van R220 miljoen om ons Safe Space-skuilings regoor die stad uit te brei en te bedryf,” sê die burgemeester.

Raadslid Patricia van der Ross het hom by die skuiling, wat in ‘n gedeelte van ‘n munisipale gebou in Ebenezerstraat in Groenpunt geleë is, bygestaan. Dit is die stad se vyfde Safe Space-skuiling wat die aantal beddens vir haweloses in die stad tot 1 070 opstoot.

Die Stad Kaapstad sê in ‘n verklaring deur hierdie skuilings word maatskaplike programme aan haweloses gebied om hulle te bemagtig om hulle volhoubaar van die strate af te kry, weer in die samelewing te integreer en met families te herenig.

Die stad sê in ‘n verklaring: “Persoonlike ontwikkelingsbeplanning en werksgeleenthede word beskikbaar gestel, asook verwysings vir geestesgesondheid-, mediese en dwelmmisbruikbehandeling.”

Ander veilige skuilings met beskikbare beddens is in Culemborg, Paint City Bellville en Durbanville geleë. Die volgende skuiling sal in die groter Muizenberg-area op die been gebring word.

Die burgemeester het die opening as ‘n vreugde bestempel, wat ‘n groot verskil aan die bedkapasiteit bring om meer haweloses van die middestad se strate af te kry.

“Op hierdie manier plaas ons sorgsame, maatskaplike ontwikkelingsbenaderings in die middel van ons strategie om meer hawelose mense van die strate af te help, en om te verseker dat openbare plekke oop en beskikbaar is vir almal. Om maatskaplike bystand te aanvaar om van die strate af te kom, is die beste keuse vir waardigheid, gesondheid en welstand. Geen persoon het die reg om ‘n openbare ruimte as uitsluitlik syne te reserveer, terwyl hy alle aanbiedinge van skuiling en maatskaplike bystand onbepaald weier nie,” het die burgemeester bygevoeg.

Met ‘n hupstoot van R500 000 het die stad verlede jaar 63% meer beddens vir Haven Night Shelter moontlik gemaak. Hierdie NRO het van 96 tot 156 beddens uitgebrei.

Patricia van der Ross, raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het bygevoeg: “Die Stad help reeds jaarliks ​​sowat 3 500 mense met skuilingplasing of verwysings na ‘n verskeidenheid maatskaplike dienste. Ons sien daarna uit om hierdie dienste uit te brei om baie meer mense van die strate in die middestad van Kaapstad af te help in vennootskap met die gemeenskap en die burgerlike samelewing.”

By die Safe Space-skuilings word waardigheid hoog geag. Haweloses wat hulp soek, kan gemak en badkamers, met twee maaltye ‘n dag, verwag. ‘n Maatskaplike werker is ook op die perseel beskikbaar en persoonlike ontwikkelingsbeplanning word gedoen. Hulp word gegee om ‘n ID en maatskaplike toelaag te bekom. Behandeling vir dwelm- en alkoholmisbruik, vaardigheidsopleiding, hulp om werk te kry en toegang tot EPWP-werkplasing is beskikbaar.

Die belangrikste is seer sekerlik om die persoon op die ou end suksesvol met sy familie te herenig.

Foto’s: Stad Kaapstad

Lees ook: Borg ‘n warm bed vir 5 nagte vir ‘n hawelose

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief