WES-KAAP. – Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het inwoners aangemoedig om deel te neem aan die openbare deelnameproses rakende dié stad se langtermynplan vir die volgende 25 jaar. Openbare kommentaar kan tot 12 September 2025 ingedien word.
“Dit is nou 25 jaar sedert die vorming van ’n verenigde Stad Kaapstad en ’n goeie tyd om ons plan en visie vir die volgende 25 jaar vas te lê. Ons wil verseker dat Kaapstad nie die pad van agteruitgang volg wat ongelukkig in ander stede sigbaar is nie en dat ons metro ’n florerende stad van hoop bly, lank in die toekoms in, ’n toekomsgerigte stad van geleenthede vir almal en ’n nog beter plek om in te woon,” het Hill-Lewis gesê.
“In die Kaapstad van 2050 sal ons meestal van bekostigbare openbare vervoer gebruik maak, ons strate sal baie veiliger wees danksy slim polisiëring, ons sal ’n groot deel van ons water en elektrisiteit uit alternatiewe bronne verkry vir groter sekuriteit, en ons natuurlike omgewing sal beskerm en herstel word vir toekomstige geslagte.
“Die grondslag van baie hiervan word reeds nou gelê, onder meer deur die stad se Suid-Afrikaanse rekordbrekende tienjaar-infrastruktuurprogram van R120 miljard, waarvan 75% direk lae-inkomste huishoudings bevoordeel, asook deurlopende beleggings in volhoubare en betroubare dienste vir water, elektrisiteit en afvalbestuur.
“Teen 2028 mik die stad ook daarna om veel meer beheer oor kritieke dele van ons streeks-ekonomie te verkry, insluitend die oorname van passasierspoorvervoer en Eskom-verskaffingsgebiede, die verkryging van meer polisiëringsbevoegdhede vir ons beamptes om Kaapstad veiliger te maak, en om doeltreffend-bestuurde klein hawens te verseker.”
Kaapstad se Visie 2050 het twee hooftemas – om ’n stad van geleenthede vir almal te skep en dan om ’n toekomsgerigte stad te wees wat die uitdagings van die volgende 25 jaar kan hanteer.
Lyndan Khan, woordvoerder van die burgemeester, sê die langtermynplan sluit verskeie stadsinisiatiewe in ter ondersteuning van dié doelwitte. Hoogtepunte sluit in:
- Verhoogde infrastruktuurbeleggings en ‘n verbeterde besigheidsklimaat, met ’n mikpunt van 120% toename tot die BBP teen 2050
- Slim polisiëring wat tegnologie en data gebruik vir ’n veiliger stad
- Herstel van passasierspoorvervoer as ruggraat van die vervoernetwerk onder stadsbestuur
- 75% van alle reise teen 2050 via openbare vervoer, met geen inwoner wat meer as 10% van beskikbare inkomste aan vervoer bestee nie
- Verbeterde gebruik van digitale tegnologie en kunsmatige intelligensie vir beter stadsbestuur en kommunikasie
- 35% van elektrisiteitsbehoefte verkry vanaf alternatiewe bronne, en netwerkopgraderings vir ’n gedesentraliseerde energie-toekoms teen 2030
- 25% van Kaapstad se water uit nie-oppervlakte bronne teen 2040
- Verhoging van nuwe behuisingsgeleenthede tot 50 000 per jaar deur grondvrystelling, privaat sektor-ontwikkeling, opgraderings van informele nedersettings en ondersteuning aan mikro-ontwikkelaars
- Belangrike beleggings in sanitasie, insluitend behandelingsaanlegte vir afvalwater
- 70% van afval word van stortingsterreine afgelei, met verbeterde insameling, herwinning en afvalvermindering teen 2050
- Biodiversiteitbeskerming en plant van 100 000 bome teen 2050 volgens die stad se stedelike bosbeleid
- Rampbestuursvermoë om klimaatsuitdagings soos brande, droogte en vloede te hanteer
Kernareas van inter-regeringsamewerking:
Die plan beklemtoon ook die belangrikheid van samewerking met provinsiale en nasionale regering, insluitend:
- Infrastruktuurprojekte vir groeiende behoeftes aan gesondheid, onderwys en paaie
- Oordrag van beheer oor passasierspoorvervoer aan die stad
- Meer polisiëringsbevoegdhede vir munisipale beamptes
- Vrystelling van nasionale mega-eiendomme vir bekostigbare behuising en gemengde ontwikkeling
- Oordrag van Eskom-verskaffingsgebiede aan die stad
- Hervormings in die bestuur van klein hawens
- Privaat sektor-hervormings vir die hawe van Kaapstad en ontwikkeling van ’n alternatiewe binnelandse hawe
Inwoners kan tot 12 September 2025 kommentaar op die plan lewer.
Openbare kommentaar kan aanlyn gemaak word by www.capetown.gov.za/HaveYourSay, of e-posse kan aan [email protected] gestuur word. Deur 0800 212 176 te bel of self die burgemeesterskantoor te besoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





