Kaapstad verwelkom uitsettingsbevel by kasteel

Lees ook :

Foto: https://castleofgoodhope.co.za/

KAAPSTAD. – Die Stad Kaapstad het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se toekenning van ’n uitsettingsbevel aan die Nasionale Departement van Openbare Werke (DPW) vir die onwettige okkupasie rondom die Kasteel de Goede Hoop in die middestad verwelkom.

Die onwettige okkupeerders moet teen 17 Oktober die terrein verlaat, met die opsie om skuiling by die Stad se Safe Spaces-program te aanvaar, wat deurlopend beskikbaar is.

Stadsamptenare het die DPW ondersteun deur die persoonlike omstandighede van die onwettige okkupeerders te dokumenteer deur middel van onderhoude op die terrein. Skuiling by Safe Spaces en NGO-skuilings is aan hulle aangebied en bly steeds beskikbaar vir dié wat hulp benodig.

Lyndon Khan, woordvoerder, sê die Stad se Safe Spaces-program bied verskeie maatskaplike programme aan om mense op ’n volhoubare manier van die strate af te help en hulle weer in die samelewing te integreer. Hierdie programme sluit persoonlike ontwikkelingsplanne, werksgeleenthede en verwysings vir geestesgesondheid, mediese sorg en behandeling vir dwelm- en alkoholmisbruik in.

Burgemeester Geordin Hill-Lewis het die hofuitspraak verwelkom: “Die onwettige okkupasie rondom die Kasteel was lank ’n bron van kommer weens misdaad en vuilheid. Die Stad het al vir meer as twee jaar gevra dat die eienaar van die terrein verantwoordelikheid moet neem en ons is dankbaar dat die nuwe minister en sy departement opgetree het.”

Die onwettige okkupasie het tydens die nasionale inperking begin. Hill-Lewis het beklemtoon dat die oplossing nie net vir die Kasteel se toerisme- en ekonomiese waarde noodsaaklik is nie, maar ook vir die gesondheid en waardigheid van die okkupeerders. Hy het gesê dat die aanvaarding van maatskaplike hulp die beste opsie is vir diegene wat hulle lewensomstandighede wil verbeter en dat niemand die reg het om ‘n openbare ruimte vir hulself op te eis en hulp te weier nie.

Die Stad het onlangs ook ander onwettige okkupasies in die middestad aangespreek. Uitsettingsbevele is reeds toegepas in areas soos Buitengrachtstraat, FW De Klerk Boulevard, Helen Suzman Boulevard en ander. Vroeër vanjaar het die Hooggeregshof ook uitsettingsbevele toegestaan vir terreine naby die Green Point Tennisbane en Old Marine Drive.

Om haweloosheid verder aan te spreek, het die Stad meer as R220 miljoen oor die volgende drie jaar begroot om die Safe Spaces-netwerk van skuilings uit te brei. Tans is daar 1 070 beddens oor die middestad, Bellville en Durbanville, met ’n nuwe 300-bedfasiliteit wat onlangs in Groenpunt geopen is. Nog ’n Safe Space is in die vooruitsig vir Muizenberg, met verdere uitbreidings wat beplan word.

Benewens skuiling, bestuur die Stad die suksesvolle Matrix-dwelmmisbruikbehandelingsprogram met ’n sukseskoers van 83%. Elke jaar help die Stad duisende mense deur skuilingplasing en maatskaplike dienste, insluitend gesinshereniging en herintegrasie.

Die Safe Space-model bied:

  • Waardigheid in skuiling
  • Twee etes per dag
  • Ablusiegeriewe
  • Op-die-terrein maatskaplike werkers
  • Persoonlike ontwikkelingsplanne
  • Hulp met ID-dokumente en maatskaplike toelaes
  • Vaardigheidsopleiding en werksgeleenthede
  • Behandeling vir dwelms- en alkoholmisbruik

Khan sê die stad bly verbind tot die ondersteuning van mense in nood en om Kaapstad te verseker as ‘n stad wat geleenthede en ondersteuning bied aan sy inwoners.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App