Foto’s en video in berig.
GAUTENG. – 11 verdagtes van ‘n sogenaamde sindikaat, van wie een ‘n werknemer van Stad Tshwane se energie-en-elektrisiteitsdepartement, is gearresteer nadat daar glo Woensdag probeer is om elektrisiteittransformators onder die voorwendsel van herstelwerk te steel.
This evening, we visited the Claudius Substation after an attempted heist of City transformers was reported. 10 suspects have been arrested including a City of Tshwane official from the electricity department. The others are believed to be from the City of Joburg. This is… https://t.co/36AnozK6gf pic.twitter.com/ZdqzOdqogh
— Dr Nasiphi Moya (@nasiphim) November 27, 2024
Dr. Nasiphi Moya, die burgemeester van Tshwane, sê in ‘n verklaring ‘n wykkomiteelid het Naeem Patel, die raadslid in die omgewing, oor verdagte aktiwiteit by die Claudius-substasie laat weet. Op sy beurt het hy die metropolisie en polisie ingelig.
Kapt. Johan van Dyk bevestig die verdagtes is op aanklagte van die peuter met noodsaaklike infrastruktuur en diefstal gearresteer. Laudium-polisielede het omstreeks 12:05 vragmotors, ‘n hyskraan, asook ‘n gemerkte vragmotor van Stad Tshwane in Cuprenestraat aangetref. ‘n 40-ton laebedtrok het met ‘n gelaaide transformator probeer om die perseel te verlaat. Die polisie is deur die operateurs, wat bevestig het hulle werk vir ‘n privaat vervoermaatskappy, meegedeel hulle is gehuur om die transformators te verwyder en na Middelburg, in Mpumalanga, te vervoer.
Van Dyk sê tydens die voorlopige ondersoek is vasgestel geen amptelike magtiging is gegee om die transformators te verwyder nie. Hy sê voorts die transformators ter waarde van R35 m. is nie verkoop nie, maar daar is mee gepeuter om dit te verwyder, wat ongeveer R5 m. se skade aangerig het.
Die Stad Tshwane-werknemer met die gemerkte voertuig het glo persoonlik, ongemagtig, vir die transformators se verwydering gereël. Die werknemer het die nasionale sleutelpunt vir die ongemagtigde verwydering oopgesluit. Veiligheidspersoneel het bevestig dieselfde werknemer het die vragmotors en hyskraan die perseel laat betree. Hy het ook glo die vorige dag die perseel saam met die privaat maatskappy besoek.
Die polisie het op vier laebedtrokke, twee 50-ton hyskraanvragmotors, ‘n Nissan UD 20-ton vragmotor, twee Suzuki Carry-bakkies, ‘n Mahindra-bakkie en ‘n VW Caddy-bakkie beslag gelê.
Die ondersoek duur voort.










