Brekende Nuus
Afrikaans

Kameeldrift-Oos: Man op plaas met panga in gesig geslaan

Foto: Ter illustrasie Canva
Foto: Ter illustrasie Canva

GAUTENG. – ‘n Man is in die vroeë oggendure van 28 Junie in Kareeweg, Kameeldrift-Oos, met ‘n panga in die gesig geslaan nadat ‘n egpaar van ‘n harde klap aan hulle deur wakker geskrik het en ongeveer vyf verdagtes die huis betree het.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die verdagtes het met die slagoffer se Toyota Cruiser en huishoudelike items van die toneel gevlug. Enigiemand met relevante inligting word gevra om na vore te kom. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord en huisroof.

Ian Cameron, voorsitter vir die portefeuljekomitee oor die polisie, parlementslid en misdaadaktivis, sê in ‘n sosialemediaplasing landelike gebied bly onder beleg. Volgens hom was die aanval op die bejaarde man so gewelddadig dat hy hospitaalbehandeling moes kry nadat hy met die panga in die gesig geslaan is. Hy sê volgens berigte het die verdagtes ook ‘n skoot in ’n tweede huis afgevuur, ’n vrou met geweld gedreig en haar loopraam gesteel om haar bewegings te beperk. Verskeie items, insluitend ’n goue Toyota Urban Cruiser, is gesteel.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]