GAUTENG. – Die gedenkdiens vir Justine van Vollenstee (16), wat ‘n lang stryd met leukemie gehad het en verlede week gesterf het, vind Vrydag in die Agapé-kapel in Claremont, Pretoria, plaas.
Beide Laerskool Saamspan en Hoërskool Tuine, waar sy skoolgegaan het, het die nuus van haar afsterwe gedeel. Geraldine van Vollenstee het ook haar dogter se afsterwe op sosiale media bekendgemaak.
“My hart is geskeur in duisend, miljoene stukke, ek Kan nog nie die waarheid Klein kry nie, dis nie waar nie. My mooiste Engel meisiekind is oorlede 22:30 vanaand. Ek weet nie hoe ek hier deur gaan Kom nie, mense ek weet nie. My pragtige meisiekind het so bitter hard baklei, sy wou so graag eendag ‘n dokter word om ook kinders te help wat deurgaan wat sy deurgegaan het, nou Sal sy nooit haar drome Kan waar maak nie. RIP MY mooiste liefste beertjie. Mammie mis jou al klaar verskriklik.”
Geraldine sê aan Nuusflits Justine het vir ses jaar teen ernstige aplastiese anemie baklei en is eers Februarie 2025 met leukemie gediagnoseer.
“Sy het twee siektes geveg en omdat haar bloedselle na chemobehandeling op 0 was, het ‘n baie ernstige infeksie haar liggaam oorgeneem en sy kon nie terugbaklei nie, so ongelukkig nie en dit het haar lewe geneem.”
Laerskool Saamspan sê: Dis met groot hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van ons oudleerder Justine van Vollenstee. Ons innige meegevoel gaan uit aan haar familie, vriende en geliefdes in hierdie moeilike tyd.
Hoërskool Tuine sê: Ons innige simpatie en meegevoel aan die familie en maats met die afsterwe van Justine van Vollenstee. Haar toewyding en vriendelikheid laat ‘n blywende indruk. Mag haar siel in vrede rus, en die naasbestaandes vrede vind by die voete van ons Skepper.
Indien jy meer oor Justine se begrafnisreëlings wil weet, gaan na die KOM ONS RED JUSTINE – Facebook-blad.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





