Karlien van Jaarsveld kon Vrydagaand vir haar seun, Johannes Samuel, huis toe neem nadat hy dae lank in ‘n hospitaal was. Die bekende mamma het ‘n uitputtende week beleef nadat haar seun en dogter, Elah, gelyktydig masels opgedoen het. Johannes Samuel het nie geëet of gedrink nie – hy het vir vier dae aaneen geslaap en het gehoes totdat hy sonder asem was. Sy erken ruiterlik dat sy ná Covid skepties was oor inentings – ‘n besluit waaroor sy nou spyt is.
Toe Karlien haar seun kon huis toe neem, waarvoor hy self gevra het, was hy so swak dat sy hom moes dra. Hy was stil en het gaan lê, met die eerste sweem van ‘n glimlag wat deurgebreek het toe hy sy beste maatjie, die hond Rolo, gesien het. Die sangeres wat emosioneel uitgeput was, sê sy het haar na God gewend. Sy sê daarna het Elah beter gevoel en Johannes Samuel was honger.
Saam met haar dankbaarheid, het Karlien egter ook ‘n pynlike erkenning gedeel. Ná Covid was sy skepties oor inentings en het sy besluit om nie vir Johannes Samuel die MMR-entstof te gee nie – ‘n besluit wat sy nou diep betreur. “Die verskil tussen ‘n kind wat die ent het en een wat dit nie het nie, is groot,” skryf sy. “Ek deel dit sodat jy self kan besluit wat dalk die beter opsie vir jou kind gaan wees.”
Lees die twee plasings van Karlien op sosiale media hier onder:
Karlien sê Saterdag: Ek en Samuel het gisteraand huistoe gekom. Hy het gevra hy wil huistoe gaan. Toe laat roep ek die dr. en vra hom of ons kan. Toe sê hy, hy is gemaklik dat ek verder na hom kyk. Hy was maar swak en kon nie loop nie ek het hom gedra en in ‘n rolstoel gestoot. Hy het nie gepraat toe ons by die huis kom nie en net gaan lê. Sy eerste smile was vir Rolo ons hondjie, sy beste maaitjie. Rolo was sooo bly om hom te sien! Elah het baie sleg gevoel en ek het haar toe gehelp. Die tweeling was emosioneel omdat ek so lank weg was…baie. Ek het emosioneel op en laag gevoel. Ek het toe gaan stort en worship musiek aangesit en my hande gelig toe ek dit doen toe breek iets in my. Ek het net aanhou sing ten spyte van al hierdie siek en seer wat ek sien. Ek het ondertoe gegaan en die musiek in die huis aangesit. Ek het voor die kinders gaan staan en sing. Elah het begin saam sing en my hande gevat. Sy het in daai lied beter geword, spring lewendig. Samuel het aan die slaap geraak en toe hy wakker word toe wil hy eet. Soos een wat genees is. God het ons die rus van die regverdige gegee gistraand en ons krag herstel. Ons kinders is gesond vandag. Die merke op Elah is besig om weg te gaan en ek kan met vrede en nuwe krag vandag al 3 my shows doen. God is goed. Want op ’n punt raak mens bewus: ons probeer met ’n tydgebonde verstand ’n ewige verstand verstaan. Soos die son wat was hard maak maar klei sag maak; dieselfde teenwoordigheid openbaar wat reeds binne-in die materiaal is. Dieselfde son — * maak was hard, * en klei sag. Die verskil lê nie in die son nie, maar in die toestand van dit waarop die son skyn. Dankie aan elkeen wat saam ons gebid het, dit was ons grootste geskenk.
Vrydag het sy gesê: Die was Dag 4 in die hospitaal vir Johannes Samuel. Nie seker hoe lank ons nog hier gaan wees nie… Hy slaap heeltyd, eet en drink nie, en hoes totdat sy asem wegraak. Masels breek nou oral uit. Ek was van Covid af baie skepties oor immunisering, maar nou dat ek sien hoe ’n kind moet fight wat nie ’n ent teen masels het nie, is ek so spyt dat ek nie vir hom die MMR gegee het nie. Die verskil tussen ’n kind wat die ent het en een wat dit nie het nie, is groot. Die een kan by die huis bly, het nog energie, eet en drink nog, en die een wat dit nie het nie, word opgeneem en fight kliphard. Dit breek ’n mens se hart. Dankie vir almal se boodskappe. Ek deel dit sodat jy self kan besluit wat dalk die beter opsie vir jou kind gaan wees. Ek wil niemand se kinders deur hierdie siekte sien gaan nie.






