Karlien van Jaarsveld sê oor kinders met masels – een ingeënt, die ander nié

Lees ook :

Foto: Karlien van Jaarsveld

Die Suid-Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld het onthul dat twee van haar kinders onlangs masels opgedoen het, met een van hulle wat in die hospitaal behandel moes word. Sy het verduidelik dat haar dogter, Elah, ’n MMR-inenting ontvang het, wat moontlik bygedra het dat sy nie so ernstig siek geword het nie, terwyl haar seun, Johannes Samuel, ernstiger simptome ervaar het. “Groot verskil sien ek nou… hy is man down.”

Van Jaarsveld sê Johannes Samuel is in die hospitaal opgeneem nadat hy die siekte glo by ’n familielid opgedoen het, terwyl Elah die infeksie by die huis deurstaan het. Die sangeres het haar emosionele ervaring gedeel en beskryf hoe moeilik dit is om haar kind siek en in pyn te sien, veral tydens mediese behandeling. Sy het ook haar dankbaarheid uitgespreek dat Elah nie in die hospitaal opgeneem is nie.

Kommentaar op die sangeres se plasing was uiteenlopend. Sommige ouers wie se kinders ook masels of ‘n ander voorkombare siekte opgedoen het, het beweer dat hul kinders met immunisering vinniger beter geword, terwyl ander van die teendeel oortuig was.

Die Nasionale Departement van Gesondheid het Dinsdag benadruk dat masels ’n baie aansteeklike siekte is wat deur ’n virus veroorsaak word en wat simptome soos koors, ’n loopneus en rooi oë veroorsaak. Die departement waarsku dat dit gevaarlik kan raak indien dit nie behandel word nie en dat dit tot komplikasies soos ernstige diarree, breininfeksie, uitdroging, sigverlies en selfs die dood kan lei. Volgens die departement kan vitamien A help om die simptome te verlig, maar beklemtoon dat inentings die beste manier bly om kinders teen masels te beskerm. Ouers word aangemoedig om hul kinders na die naaste kliniek te neem vir inhaal-inentings, indien enige dosisse gemis is.

Lees self Karlien van Jaarsveld se plasing hier onder:

Ek sit al die laaste drie dae saam met Johannes Samuel in die hospitaal. Hy het masels by sy niggie van Klerksdorp aangesteek, en ek begin nou regtig dink Klerksdorp is nie net die polonie-mekka nie, maar die middelpunt van die aarde. Lily het die masels hier soos ’n veldbrand kom versprei.

Elah het dit ook gekry, maar die verskil tussen sy wat by die huis daardeur werk en Johannes Samuel in die hospitaal, is dat Elah ’n MMR-ent gehad het en Johannes Samuel nie. Groot verskil sien ek nou… hy is man down. 🥹

Dit breek my hart om te sien hoe my enigste baba wat ek ná geboorte kon huis toe vat — en nie in NICU was nie — se absolute vreugde en onskuld vir die lewe binne ’n oomblik verander in ’n gesigsuitdrukking van verslae teleurstelling dat die lewe dan ook só kan lyk… dat ek toelaat dat iemand hom so seermaak met ’n drip en bloed trek, en ek moet sê: “Dis om jou te help… sodat jy gesond kan word.”

Hoekom moet mens seerkry om gesond te word?

Daai vraagteken sit so duidelik op sy gesig. Jesus maak mos nie seer as Hy gesond maak nie?

Dis so moeilik en ’n blywende oomblik binne ’n mens se liggaam en verstand wanneer jy vir die eerste keer op jou kind se gesig sien hoe geskok hy is dat die mooi lewe ook hierdie soort dinge inhou. Mens wens jy kan hulle daarvan weerhou. Maar só word die olie ook vrygestel…

Elah het vir my die briefie gemaak terwyl ek in die hospitaal is. Sy het dit op my spieëlkas gesit — ’n plek waar sy weet ek sal kyk wanneer ek gou huis toe kom om te stort voor ek weer hospitaal toe gaan.

Op my spieël: ’n prent van “under the sea”-karakters. Die see het ook ’n spieëlbeeld, en baie keer kyk mens net na die oppervlak — na jou eie refleksie — en mis die lewe onder die see.

Ek sien die refleksie van teleurstelling en onskuld wat vir ’n oomblik gesteel word… maar wat van al die lewe wat onder dit lê?

Mag my oë die lewe herken binne die ware Spieël van God.

Here, U weet… ek is gatvol vir hospitale, en ook dankbaar dat Elah nie weer daar is nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief