VRYSTAAT. – ‘n Man (42) is in hegtenis geneem nadat ‘n vrou Maandagmiddag gesterf het toe sy deur vier pitbull-honde in Namibia Square in Bloemfontein verskeur is.
Lt.kol. Thabo Covane sê die verdagte en oorledene was vermoedelik in ‘n verhouding. Die man is Dinsdagaand omstreeks 21:00 op die wysigingswet op diereaangeleenthede in hegtenis geneem. Die verdagte sal Donderdag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Vrou (28) het Maandag in Namibia Square naby Bloemfontein gesterf nadat sy deur vier pitbulls verskeur is.
Lt.kol. Thabo Covane sê die honde het die vrou omstreeks 15:00 aangeval. Die voorval is aan die polisie gerapporteer, wat hulle na die toneel gehaas het. Die vrou is met bytmerke, meestal aan haar onderlyf, aangetref waar sy op die grond gelê het. Sy is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het ‘n saak van strafbare manslag oopgemaak.
Polisielede het drie van die honde op die toneel van kant gemaak. Die ander, met klein hondjies, is na die plaaslike DBV geneem.
Die ondersoek duur voort.





