Kêrel lewenslank tronk toe vir moord op Siphokazi Booi

Lees ook :

Foto: Ian Cameron

Waarskuwing: Foto aan onderkant van berig nie vir sensitiewe lesers nie.

WES-KAAP. – Siphokazi Booi is op 3 September 2021 deur Sithobele Qebe doodgemaak, in ‘n wheelie bin geprop en op ‘n brandende vullishoop gegooi. Die Paarl-streekhof het Qebe skuldig bevind en gevonnis.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê beide het volgens Qebe se getuienis die betrokke dag gekuier, alkohol gebruik en daarna in ‘n argument betrokke geraak. Later die aand moes Booi by hulle blyplek deur die venster klim omdat Qebe gelê en slaap het.

Qebe het aan die hof voorgehou Booi het die komberse van hom afgetrek, hom met ‘n vuis geslaan en sy T-hemp geskeur. Hy het kwaad geword, haar vier keer in die maag geskop en alhoewel sy haar maag vasgehou het, opgegooi en in sigbare pyn was, het Qebe haar by die huis uitgegooi en gaan slaap. Na ure het Qebe vir Booi bewusteloos in dieselfde posisie gevind. Hy het haar liggaam in die asblik gebondel en haar op ‘n brandende vullishoop gegooi.

Ntabazalile sê Qebe het dit gedoen omdat hy bang was sy misdaad word ontdek.

Qebe het vroeër in 2021 ook vir Booi so aangerand dat ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer geopen is. Hy het borg gekry, op voorwaarde dat hy nie met Booi sal kontak maak nie. Die borgvoorwaardes is verbreek, aangesien die laaste argument en Booi se moord by hulle gedeelde woning in Ntshambastraat 35, Mbekweni, was.

William da Gras, die staatsaanklaer, het ter strafverswaring verskeie getuies laat getuig en boonop geargumenteer Qebe het Booi vermoor, aangesien hy geweet het sy gaan in die vorige saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, teen hom getuig.

“Hy het die hof suksesvol gevra om lewenslange tronkstraf op te lê, aangesien dit ‘n moord met voorbedagte rade was.”

Da Gras het voorts ‘n proefbeampteverslag ingedien waarin Booi se tante woede uitgedruk het oor die manier waarop sy gesterf het, sy het die nie verdien nie. Daar is voorgehou die familie kan nie afsluiting vind vir die trauma waardeur die oorledene gegaan het nie.

Qebe het skuldig gepleit en is deur die hof tot lewenslank tronkstraf gevonnis. ‘n Verdere drie jaar is vir regsverydeling opgelê, vyf jaar vir lykskending en ‘n verdere drie jaar vir verbreking van borgvoorwaardes.

Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en Qebe sal dus lewenslank in die tronk deurbring.

Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee vir die polisie, sê hierdie is die eerste saak wat hy as lid van Action Society aangeneem het en bestempel die oorwinning na bykans drie jaar as bittersoet.

Action Society, wat die saak van Booi se moord af gemonitor het, het die vonnis as een van hulle grootste oorwinnings bestempel.

“Today marks one of Action Society’s greatest victories as we see the man who brutally murdered Siphokazi Booi sentenced to life imprisonment at the Paarl Regional court, and the halls of the court were jubilant with songs of victory. The murder case of Siphokazi Booi has been dragging on for three excruciatingly long years, but today justice finally prevailed,” sê Juanita du Preez.

Foto’s: Ian Cameron

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief