Kêrel vir moord in wingerd gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – Jannie Oerson het op 26 November 2022 vir Janine Kayster (23) so erg aangerand dat sy gesterf het. Hy het haar liggaam in die wingerd van die plaas Lakensvlei op Ceres gelos. Hy is tot lewenslank in die Ceres-streekshof gevonnis.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die veroordeelde en die oorledene was vir vier jaar in ‘n verhouding wat deur geweld gekenmerk is. Oerson het erken hy het Kayster geslaan en net so in die wingerd gelos. Oerson het ‘n vorige veroordeling van aanranding in 2016 gehad.

Chante Kim Trezires, die staatsaanklaer in die saak, het aan die hof voorgehou die paartjie het op die betrokke dag gaan kuier. ‘n Argument het onderweg huis toe ontstaan. Oerson het ‘n stok opgetel en Kayster oor haar hele liggaam aangerand.

Oerson het Kayster net so gelos en is alleen huis toe waar hy later vir iemand vertel het sy lê in die wingerd nadat hy haar geslaan het. Kayster se liggaam is deur die polisie gekry en Oerson is in hegtenis geneem.

Trezires het twee slagofferimpakverklarings ter strafverswaring aan die hof oorhandig. Kayster se ma en suster het aan die lig gebring die oorledene het ‘n beskermingsbevel teen Oerson gehad, wat in 2021 uit vrees vir Oerson gekanselleer is. ‘n Geskiedenis van gesinsgeweld tot ‘n week voor haar dood is onthul.

Oerson is deur Kayster se ma en suster as obsessief beskryf. Hy wou nie hê sy moes tyd saam met haar familie deurbring nie en het gedreig om haar dood te maak.

Trezires het aan die hof voorgehou daar geen dag verby dat ‘n vrou nie deur haar maat vermoor word nie. Die oorledene het nog haar hele lewe voor haar gehad, maar het aan die hand van die persoon wat veronderstel was om haar lief te hê en te beskerm, gesterf. Gegee die erns van die misdaad en in die belang van die samelewing is versoek die hof moenie van die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf afwyk nie.

Die hof het saamgestem. Die moord is as monsteragtig beskryf en Oerson se persoonlike omstandighede is generies verklaar. Dit het nie swaarder as die erns van die misdaad en die gemeenskap se belang geweeg nie. Die hof kon dus nie van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf afwyk nie.

Die NVG het die vonnis verwelkom en die ondersoek- en vervolgingspan geprys.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief