NOORD-KAAP. – Andries Mano Buffel (47), wat ‘n selfdoodpoging oorleef het nadat hy sy meisie doodgeskiet het, is deur die hooggeregshof tot 38 jaar tronkstraf gevonnis.
Sers. Merapelo Pilane sê die polisie is op 7 Junie 2023 omstreeks 21:00 na die toneel van ‘n skietvoorval. Met aankoms op die toneel het twee volwassenes met skietwonde op die grond gelê. Beide is na ‘n hospitaal vervoer, maar die vrou het gesterf.
Buffel het sy broer se vuurwapen gesteel, waarna hy eers sy meisie en toe homself geskiet het. Borg is suksesvol deur die ondersoekbeampte teengestaan. Buffel is tot 22 jaar vir moord, agt jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen, vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie en drie jaar vir diefstal gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Hy is verder onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Speur.konst. Vuyani Links is vir die suksesvolle ondersoek en skuldigbevinding geprys.





