Kerk in VSA betreur voorkeurbehandeling vir Afrikaners wat hervestig

Lees ook :

Deur Helene Meissenheimer vir Kerkbode

Hy was moeg vir die doodsdreigemente en dat die polisie niks doen om hom en sy kinders op sy plaas in Mpumalanga te beskerm nie. Daarom het hy besluit om president Donald Trump se aanbod aan “wit Afrikaners” op te neem om na die VSA te emigreer.

Só vertel die 46-jarige Charl Kleinhaus in ’n onderhoud met die BBC. Hy is een van 49 (ander bronne praat van 59) Suid-Afrikaners wat onlangs deur amptenary van die Amerikaanse regering as deel van ’n hervestigingsprogram verwelkom is.

Ander soos gasteplaaseienaar Thea van Straten het ook misdaad uitgelig as hoofrede hoekom hulle Suid-Afrika verlaat. Skaars het hierdie groepie in hulle nuwe vaderland geland of die kerkgroep wat al dekades die Amerikaanse regering help om vlugtelinge te hervestig, het geweier om die Suid-Afrikaners te help (sien ook: in pics : africaner refugees leave SA for US van eNCA).

Vir konteks rondom hierdie gebeure, eers ’n oorsig, of witkruisarendkyk, soos Antoinette Pienaar dit noem.

Slegs hulp vir nuwe ‘Afrikaner refugees’ terwyl duisende ander s’n afgesny is

Die VSA het ’n lang geskiedenis van vlugtelinge ontvang en help hervestig. Dit is meestal ’n proses wat tot twee jaar en selfs langer kan neem, volgens inligting op Global Refuge, ’n organisasie wat steun aan vlugtelinge bied.

Trump het reeds in sy eerste termyn al te velde getrek teen die duisende vlugtelinge wat jaarliks op regeringsonkonste hervestig word. Een van die eerste goed wat Trump ná sy herverkiesing gedoen het, is om die land se grense te sluit vir die sowat 600 000 mense wat in oorweging vir vlugtelingstatus was, het PBS News in Mei vanjaar berig.

Dit sluit in die tydelike beskermde verblyfstatus (Temporary Protected Status-program of TPS) aan mense uit Afganistan wat met die VSA saamgewerk het en nou herberg soek uit vrees vir weerwraak deur die Taliban-regering. Die Amerikaanse regering het aangekondig die TPS-program kom in Julie vanjaar tot ’n einde; ’n besluit wat na wat berig word soveel as 11 700 mense raak.

Geopende Deure het Afganistan verlede jaar uitgelig as 10de op hulle lys van die 50 gevaarlikste lande vir Christene ter wêreld en in 2022 was hulle in die nommer 1-posisie (Suid-Afrika was nog nooit op hierdie lys nie).

Nietemin is Suid-Afrika, by name “Afrikaner refugees escaping government-sponsored race-based discrimination”, die enigste groep wat Trump uitsonder vir voorkeurstatus vir hervestiging in die VSA. Hy sê hierdie groep se grond word afgevat as deel van grondhervorming en het dit ’n “ernstige skending van menseregte” genoem. Soos verwoord in sy bevel: “South Africa is confiscating land, and treating certain classes of people very badly […] I will be cutting off all future funding to South Africa until a full investigation of this situation has been completed!”

Dit blyk egter dat meer sit agter hierdie skielike oënskynlike welwillendheid. Trump kasty in dieselfde bevel ook die Suid-Afrikaanse regering vir hulle volksmoord-aanklag teen Israel by die Internasionale Geregshof in Den Haag asook die regering se noue bande met Irak wat volgens Trump terrorisme ondersteun. 

Wye reaksie ook vanuit die kerk

Trump se optrede het plaaslik sowel as oorsee wye reaksie ontlok. Die Suid-Afrikaanse regering het die Amerikaanse president se weergawe van grootskaalse landvergrype betwis.

Plaaslike burgerregtegroepe soos Solidariteit en AfriForum het verwelkom dat, soos Dirk Hermann van Solidariteit dit op sy Facebookblad gestel het, Trump “die veiligheidskrisis van boere erken”.

Ander, soos die nieregeringsorganisasie Betereinders, het met hulle “Not USA but you SA”-veldtog vanaf groot advertensieborde kapsie gemaak teen die narratief dat Afrikaners slagoffers is.

Luister ook: Podsending | Hoe praat ons oor slagofferskap? – Kollig gesels met Schalk van Heerden en Ivor Swartz

Dit is te midde van hierdie hutspot dat die Episkopaalse kerk van die VSA na die aankoms van die Suid-Afrikaanse groep bekend gemaak het dat hulle nie gaan help met hierdie groep “vlugtelinge” se hervestiging nie.

LEES DIE VOLLE ARTIKEL GRATIS HIER.


Vriende van Kerkbode

Beskerm gratis, betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld. Jou ondersteuning dra by tot meer konstruktiewe godsdienstige diskoers in die kerk. Wees gerus dat jou bydraes met sorg aangewend word tot die voortsetting van betroubare kerknuus.

Kliek hier en word vandag ’n vriend van Kerkbode.


Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief