NOORD-KAAP. – Shamers Jonkers (35), die man wat verlede jaar op Kersfees sy meisie, Bernice Nuhout (35), doodgeslaan het, is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Sers. Molefi Shemane sê die stiefseun van Nuhout het die voorval aangemeld. Met die polisie se aankoms op die plaas, Breekkerrie, het Jonkers erken hy het sy meisie aangerand, waarna hy in hegtenis geneem is. Die Carnarvon-streekshof het Jonkers aan moord skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê Jonkers is deur ‘n familielid ingelig van sy meisie se beweerde buite-egtelike verhouding. Hy het haar gekonfronteer en ‘n argument het gevolg. Jonkers het Nuhout met ‘n gordel en vuiste aangerand. Jonkers het haar op die vloer gelos en gaan slaap, waarna hy haar die volgende oggend leweloos aangetref het.
Jonkers was 20 jaar vantevore vir aanranding skuldig bevind. Hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.





