Suid-Afrika spog met 1 320 babas wat op Kersdag in die openbare sektor gebore is. Volgens aankondigings in verskillende provinsies is ‘n aantal van die nuwe mammas minderjarig. ‘n Pa (28) van een van die babas in Limpopo is vir statutêre verkragting gearresteer.
Brig. Hlulani Mashaba sê die 13-jarige nuwe ma en die verdagte het in Januarie in ‘n winkelkompleks in Seshego ontmoet. ‘n Swangerskap is in November bevestig en sy het op Kersdag geboorte aan ‘n babaseun gegee. Die polisie is ingelig en ‘n statutêre verkragtingsaak is geregistreer, waarna die verdagte Donderdag deur GKS gearresteer is. Die verdagte sal binnekort in die Seshego-landdroshof verskyn.
Volgens die departement van gesondheid is dit 300 babas minder as verlede jaar.





