GAUTENG. – Twee mense, insluitend ’n jong meisie, is Vrydag in ‘n botsing dood nadat twee voertuie in Olifantsfonteinweg in Tembisa mekaar reg van voor getref het.
Volgens die Ekurhuleni-metropolisie is beamptes van die Clayville-gebied na die botsing ontbied. Daar word beweer dat die bestuurder (30) van ’n Audi onder die invloed van alkohol was toe hy teen ’n Toyota Avanza gebots het. ’n Meisie tussen 10 en 11 jaar oud, asook die bestuurder van die Avanza, is op die toneel dood verklaar. ’n 16-jarige vroulike passasier het ernstige beserings opgedoen en is na die Tembisa- tersiêre hospitaal geneem.
Die Audi-bestuurder se alkoholvlak het 0.64 getoets. Hy is in hegtenis geneem en sal aangekla word van bestuur onder die invloed van alkohol, roekelose en nalatige bestuur, strafbare manslag en die verlaat van die toneel van ‘n botsing.





