WES-KAAP. – Nege kinders het Maandag siek geword, nadat hule glo skyfies van ‘n spazawinkel in die Mosselbaai-omgewing geëet het.
Andrew Stroebel, uitvoerende burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, sê in ‘n verklaring die kinders het erge maagkrampe ervaar en is dadelik vir mediese behandeling na ‘n plaaslike hospitaal geneem.
“Die kinders het met hul ouers/voogde aan hul sy spoedige mediese versorging deur die hele beproewing, ontvang. Mediese personeel het bevestig al nege kinders het sedertdien herstel en is ontslaan.”
Die insident word reeds deur omgewingsgesondheidspraktisyns ondersoek. Die skyfies sal by ‘n laboratorium getoets word en die resultate beskikbaar gestel word.
Stroebel versoek die publiek om enige insidente van vermoedelik vervalste kos of kos waarmee gepeuter is, aan te meld.
“Lede van die publiek word versoek om hul naaste SAPD te kontak, of direk met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se munisipale gesondheidsdienste kontak te maak.”





