WES-KAAP. – Ian Hoggins (55) is deur die Thembalethu-streekhof aan kinderverkragting, seksuele aanranding en die onwettige besit van 124 kinderpornografiese foto’s skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Ná vonnisoplegging het Hoggins in die hof probeer selfdood pleeg en is onder bewaking na ’n hospitaal geneem.
Die vierjarige slagoffer in die saak het vir vier agtereenvolgende dae in die hof getuig as die jongste slagoffer nóg om só getuienis te lewer.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens die getuienis het Hoggins die slagoffer, drie jaar oud ten tyde van die misdaad, gemolesteer, verkrag en foto’s van haar privaatdele geneem terwyl sy haar maatjie, die oortreder se dogter, besoek het. Sy het op 30 Augustus 2020 vir haar ma van die voorval vertel, waarna die polisie ondersoek ingestel het. ’n Doktersverslag en beeldmateriaal van Hoggins se selfoon het die staat se saak versterk. Die hof het sy vonnis gemotiveer deur die erns van die misdade, die misbruik van vertroue en die onherstelbare skade aan die jong slagoffer in ag te neem.
Adv. Gerda Marx, die staatsaanklaer, het aangevoer dat daar geen versagtende omstandighede bestaan wat ’n afwyking van die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf regverdig nie. Sy het benadruk dat die misdade ernstige sielkundige gevolge vir die slagoffer het, insluitend nagmerries en angs waarvoor sy medikasie moes ontvang.
Eugenia Jacobs, landdros in die saak, het die vonnis opgelê en Hoggins verder ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit. Sy naam sal ook in die nasionale register van seksuele oortreders opgeneem word.
Hoggins het aangedui dat hy teen die vonnis en skuldigbevinding gaan appelleer. Hy het om hierdie rede gevra dat sy borgtog verleng moet word, maar die hof het geweier.
Adv. Tommy Bunguzana, die waarnemende direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap, het die jong slagoffer vir haar moed en volharding geprys. Hy het ook die ondersoekspan, hofvoorbereidingsbeamptes, die Thuthuzela Care Centre en die Amerikaanse ambassade se Homeland Security Investigations bedank vir hul rol in die saak.
Hoggins is vir verkragting lewenslank, seksuele aanranding vyf jaar en die onwettige besit van kinderpornografiese foto’s agt jaar tronkstraf opgelê.





