Kirsten Kluyts se moordsaak na hooggeregshof oorgeplaas

Lees ook :

Foto: Hoërskool Delta Park

GAUTENG. – Kirsten Anne Kluyts (34), ‘n onderwyseres van Hoërskool Delta Park, se liggaam is op 29 Oktober 2023 by die George Lea-ontspanningspark in Parkmore gevind. Die moordsaak word nou na die hooggeregshof oorgeplaas.

Bafana Mahungela (21) is steeds na sy inhegtenisneming op 26 November 2023 op aanklag van Kluyts se moord in aanhouding.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die saak is van die Alexandra-landdroshof na die hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas, waar die voorverhoorkonferensie op 16 Augustus sal plaasvind. Mahungela word van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, poging tot verkragting en regsverydeling aangekla.

Mjonondwane sê Kluyts het vermis geraak nadat sy ‘n atletiekdag bygewoon het. ‘n Soektog is geloods en haar liggaam is aan die kant van ‘n paadjie gevind. ‘n Geslotebaan-televisie-opname is bekom en Mahungela is by sy studente-behuising van Varsity College in Benmore, in hegtenis geneem.

“Mahungela sal op 1 Augustus 2024 weer in die Alexandra-landdroshof wees, aangesien hy ‘n aansoek om borgtog op nuwe feite ingedien het.”

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

Die 21-jarige verdagte in die moord op Kirsten Kluyts (34) het in die Alexandra-landdroshof verskyn waar sy aansoek om borg weereens deur die hof geweier is.

Kluyts was 14 weke met ‘n babaseun swanger.

Die hof het met weiering aangevoer Mahungela is ‘n gevaar vir die samelewing, maar veral vir vroue.

‘n Nadoodse ondersoekverslag is in die hof voorgelees wat aandui sy is binne die bestek van agt minute vermoor. Die oorsaak van haar dood word beskryf as ‘n hou met ‘n stomp voorwerp oor die kop, verwurging, versmoring, asook drukking op die nek.

Tydens die hofverrigtinge het die polisie bewys die beskuldigde was ten tyde van die moord op die toneel. Foto’s is gewys van hoe hy, geklee in haar T-hemp, van die toneel vlug. Hy het verder erken hy het haar hemp, broek en drafskoene uitgetrek en haar nakend gelos terwyl hy met die klere vort is. Na bewering het hy haar klere later in ‘n drein gegooi.

Bronne: SABC News, Citizen, Times Live

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief