NOORD-KAAP. – AfriForum, die burgerregte-organisasie, het ‘n klag oor taal- en menseregteskending by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) ingedien nadat ‘n amptelike polisieskrywe aan die lig gekom het.

In ‘n verklaring van AfriForum word gesê polisielede is opdrag gegee om verklarings slegs in Engels af te neem en dit sluit ook alle ander kommunikasie in die polisie in. Geen Afrikaanse verklarings of skrywes sal geduld word nie.
Alana Bailey, AfriForum se Kultuursake-hoof, sê maj.genl. Luntu Ngubelanga, ‘n adjunk-polisiekommissaris in die provinsie, wat die onmiddelike opdrag gegee het, haal uit die grondwet aan. Bailey sê voorts daar word na ‘n soortgelyke opdrag verwys wat in 2016 gegee is en ná Solidariteit-regsaksie in 2017 teruggetrek is.
Die verdere opdrag is dat polisielede wat so ‘n tipe verklaring afneem self die vertaling moet doen en as tolk moet optree en dit kan volgens ‘n PanSAT-konferensie op 12 Maart juis moontlik lei dat feite nie korrek weergegee word nie en ‘n persoon dan sodoende aan regsverydeling skuldig bevind kan word.
“Die adjunk- provinsiale kommissaris dra duidelik nie kennis van die skikking wat in 2017 in die Noord-Kaapse hooggeregshof bereik is, of van die betekenis van die gedeelte van die Grondwet wat aangehaal word en die reg om meer tale te gebruik, beklemtoon nie,” sê Bailey.
AfriForum gee te kenne verdere regsaksie word in samewerking met meer organisasies ondersoek.
Lees meer hier.