Dantè Hunt, ’n seuntjie van twee jaar en agt maande, neem al aan skoonheidskompetisies deel vandat hy net oor ‘n jaar was. Sy ma, Donnè Hunt, het oorspronklik gedink dit is ’n babakompetisie toe sy hom inskryf, maar het gou besef dis eintlik ’n skoonheidskompetisie. Dantè het wel die “prys betaal” vir hierdie klein foutjie, deur eerste prins te wen.
Verhoog of ramp
“Ek en my man is gereeld besig met shows (met ek wat sing en Pappa wat klank doen en DJ). Ek kom uit ’n baie musikale familie en ons het besluit om Danté groot te maak op die verhoog of ramp. Dit gaan glad nie vir ons oor die wen nie – dit is baie lekker as hy wen en ons is ongelooflik trots op hom, maar solank dit sy selfvetroue opbou, is dit genoeg vir ons. Dit is die groot doel hoekom ons hom inskryf vir sulke kompetisies,” vertel Donnè.
“Ons seuntjie is glad nie skaam nie en is baie sosiaal. Met die eerste kompetisies het hy gedink dis danskompetisies, want sodra die musiek begin speel, het hy gedink hy moet dans terwyl hy loop, maar met die laaste twee kompetisies het hy baie vinnig geleer wat hy moet doen.”
Deelname
“Dantè het nou altesaam aan vyf kompetisies deelgeneem en het al ‘n totaal van 12 “pryse” gewen. Die eerste kompetisie was Mr & Miss Angel of Mercy. Ons het vir hom aanvanklik net ’n mooi formele broekie en hempie met kruisbande en ‘n strikdassie aangetrek, maar toe ons sien hoe hy dit geniet, het ek met die tweede kompetisie ‘n volledige pakkie met onderbaadjie ensovoorts gaan koop,” sê sy.
Liefdadigheid
“Met elke kompetisie is daar altyd ’n charity-afdeling waar ons tweedehandse klere, speelgoed, vouchers, kos, komberse, hondekos ensovoorts insamel vir verskillende instansies. Ons het nog elke keer besluit om hom in te skryf vir dié gedeelte van die kompetisies ook. Ek en my man is albei baie betrokke by liefdadigheidsprojekte en ons wil graag hê Dantè moet van kleins af ook deel wees daarvan en besef dat ander kindertjies baie minder het en dat hy altyd dankbaar moet wees vir wat hy het. Wanneer ons besig is met die uitsorteer van die klere ensovoorts in die verskillende ouderdomsgroepe, help Dantè graag.
Lekkerste deel van die kompetisies
“Vir ons is die lekkerste deel van die kompetisies om nuwe mense te ontmoet. Ons het so lekker vriende geraak met mense vanaf Bloemfontein, Gauteng, KwaZulu-Natal en Noord-Wes. Vir Dantè, dink ek, is die lekkerste deel om saam met maatjies van sy ouderdom te kan loop en natuurlik is die heel lekkerste deel al die mooi pryse wat hulle wen.”
Ander belangstellings
“Toe hy gebore is, het ek en my man besluit om hom ook musikaal groot te maak. Hy was ‘n paar maande oud toe hy vir die eerste keer saam is na ’n konsert waar ek moes optree. Dantè stel baie belang in dromme, motorfietse en musiek en speel so lekker op sy oom se dromstel. As musiek begin speel, dans hy – dit maak nie saak watter musiek dit is nie. Aan ritme is daar ook nie ’n tekort nie. Wanneer ek gaan sing, moet ons gewoonlik keer, anders klim hy saam op die verhoog.”
“Vir ons maak dit nie saak watter rigting hy wil ingaan nie – of hy nou wil model wees, dromme speel, sing of rugby speel – solank hy dit net geniet en elke geleentheid met altwee hande aanvat,” sê Donnè trots.