Video mag sommige lesers ontstel:
SAPS in the Western Cape have arrested a 19-year-old suspect who is seen in this video assaulting his grandmother.The suspect was traced to Wallecedene in Kraaifontein on Wednesday evening. He is expected to appear before the Blue Downs Magistrate’s Court on a charge of assault pic.twitter.com/ywn6Iy0vp1
— Athlenda Mathe (@AthlendaM) July 4, 2024
WES-KAAP. – Luvo Gqaza (19) het Vrydag op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer en oortreding van die wet op ouer persone in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn. Die saak is tot 12 Julie uitgestel en Gqaza bly in aanhouding.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die staat sal Gqaza se skedule 1-borgaansoek teenstaan. Sindiswa Ngqaza (82), ouma van die beskuldigde, is gehospitaliseer en vrees vir haar lewe.
Die verdediging het gevra Gqaza moet in die hospitaalafdeling van Pollsmoor-gevangenis aangehou word, aangesien hy selfdoodneigings het. Die staat het nie die aansoek teengestaan nie.
Steve Letsike, die adjunkminister van vroue, jeug en persone met gestremdhede, het ouma Ngqaza in die Brackengate-sorgfasiliteit, besoek.
“Bejaardes verdien om beskerm en met respek behandel te word. Die mishandeling van ouer persone sal nooit geduld word nie.”
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Die polisie het ingegryp en ‘n saak oopgemaak vir ‘n ouma wat in ‘n video wat op sosiale media gedeel word, deur haar kleinseun aangerand word. Die ouma wou nie ‘n saak maak nie.
Kol. Andrè Traut sê die Kraaifontein-polisie het die erns van die voorval besef met die video wat op sosiale media versprei word. Die voorval het ongeveer ‘n maand gelede gebeur en die polisie was op die toneel. Die familie het egter glo polisiehulp geweier en die saak self aangespreek. Die ouma was vir ‘n ander voorval in die hospitaal, waar die polisie haar gaan sien het. Sy het egter geweier om ‘n verklaring te maak. Die polisie het Woensdagaand ‘n dossier namens haar oopgemaak.
Die kleinseun (19) is gisteraand by sy huis in Wallacedene in hegtenis geneem.
Traut sê nadat hy aangekla is, sal hy in die Blue Downs-landdroshof verskyn.
“Misdade teen vroue en kinders is boaan die SAPD se prioriteitslys, en ons sal nie ons oë sluit vir enige vorm van geweld in hierdie verband nie.”





