VRYSTAAT. – ‘n Kleuterseun is Donderdag by ‘n plaaslike kliniek in Tlholong, naby Kestell, met kneusmerke oor sy hele lyf, dood verklaar. Sy ma (21) se kêrel (25) is deur die Kestell-polisie in hegtenis geneem.
AO Mmako Mophiring sê paramedici het die kleuter by die kliniek dood verklaar. Na bewering het die kleuter op 5 Junie omstreeks 20:00 ‘n glips gehad. Sy ma se kêrel het dit raakgesien en glo die kleuter met ‘n stok aangerand en daarna in ‘n wasbak met koue water gesit.
Op 6 Junie het die paar en nog ander familielede die kleuter vir behandeling na die plaaslike kliniek geneem.
Paramedici en die polisie is ontbied. Na die seun gesterf het, is ‘n moordsaak geopen.
Die kêrel sal na verwagting Maandag 10 Junie op ‘n aanklag van moord in die Kestell-landdroshof verskyn.
Mophiring sê dit is hartseer dat die insident tydens Kinderbeskermingsweek plaasgevind het.
“As ouers moet ons verantwoordelikheid vir die beskerming van ons kinders neem en enige vorm van mishandeling aan plaaslike owerhede rapporteer.”