Kleuter kritiek na sy glo van dagsorgsentrum se balkon val

Lees ook :

Foto: Reaction Unit South Africa

KWAZULU-NATAL. – Aariya Sewnarian (2) is kritiek beseer en in die hoësorgeenheid van ‘n Durbanse hospitaal opgeneem, nadat sy glo by haar dagsorgsentrum van ‘n balkon afgeval het.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê Atholl Brett Sewnarain, die kleuter se pa, het met hulle kontak gemaak en meegedeel sy dogter het tydens die beweerde val skedelbreuk opgedoen, wat tot ‘n ekstradurale hematoom en inwendige bloeding gelei het. Sy dogter moes ‘n noodoperasie (kraniotomie), ondergaan.

Die kleuter was ongeveer twee maande in die dagsorgsentrum toe sy vrou op 6 Maart ‘n oproep van die skoolhoof ontvang het. Sy het gesê Aariya moet gehaal word, omdat sy glo op sement geval het toe sy buite gespeel het. Met ‘n tweede oproep aan die skool is Aariya se ma glo meegedeel twee kinders het baklei, wat tot die val gelei het.

Rusa sê Aariya se pa sê die dagsorgsentrum het hulle mislei. Na bewering het die pa die CCTV-beeldmateriaal van die insident gesien. Aariya het glo sonder toesig op die balkon van die eerste vloer gespeel, waarna sy meters na benede tot op die grond geval het.

“Volgens ’n informant het die kleuterskool sedertdien die kringtelevisie-beeldmateriaal uitgevee in ’n poging om nalatigheid te verdoesel. Dit is nie bevestig nie. Reaction Unit South Africa (Rusa) was nie op die toneel nie en inligting is deur die pa van die beseerde kind verskaf,” sê Rusa.

Rusa en Sewnarain het die dagsorgsentrum met die oorspronklike plasing geïdentifiseer. Nuusflits het die Honey Bunch Day Care vir kommentaar gevra.

Ashmera Sewnarain, familie van Aariya, sê daar was Maandag ‘n vreedsame protesaksie buite die dagsorgsentrum. Sy het ook gesê Aariya toon beterskap en swelling in haar gesig is besig om weg te gaan. Dreineringspype is uit haar kop gehaal en sy eet sagte kos, aangesien haar lip seergekry het. Sy het steeds pyn en ‘n lang herstelpad lê voor. Dank vir al die ondersteuning vir Aariya is ook uitgespreek.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief