Kleuter-‘seunboer’ sterf weens verdrinking

Lees ook :

Foto: Lothar Stadler

NOORD-KAAP. – LJ Stadler (3) van die plaas Loch Maree, in Ashkam, noord van Upington, het dae gelede weens verdrinking gesterf nadat hy op 20 Desember verjaar het.

Lothar Stadler, LJ se pappa, het in ‘n sosialemediaplasing gesê dit maak sy hart seer om sy seunboer se mooi gesiggie op ‘n kaartjie, wat sy gedenkdiens aankondig, te sien. LJ sal Dinsdag, om 10:00, vanuit die Askham NG-kerk gegroet word. Diegene wat die diens bywoon, is gevra om kleurvol aan te trek.

“Ai my seuntjie, dit maak my hart so seer om jou mooi gesiggie op so ‘n kaartjie te sien. Dankie aan almal se boodskappe, jammer ons antwoord nie. Ons trek baie swaar, en die klim is hoog, ons sien nog nie die bokant van hierdie enorme berg nie. Maar ek en my vrou help mekaar, en ons 2 pragtige dogtertjies troos ons. En ons Skepper wat saam met ons huil, help stoot, so ek hoop en glo ons sal eendag die bokant sien.”

Nandre Olivier Stadler, LJ se mamma, het hom op 20 Desember met sy verjaarsdag gelukgewens: “Ons eie seunboer is vandag 3 vingertjies oud!! Ons lief jou ou besige by. Altyd besig met sy eie ding, goggas vang, hoenders vertroetel of nonsies aanvang!! Lief jou te erg ons boertjie!!”

Retha Smit Stadler sê op Oujaar: “Baie dki aan almal vir jul gelukwensings met my verjaarsdag en medelye met die heengaan van ons boerseun, LJ. Ons vra nie meer vrae nie, ons seer is net te seer. Hou asb. aan bid vir my stukkende kinders…”

Esmé du Plessis-van Wyk sê in kommentaar onder die plasing: “Lothar en Nandre,ek is só jammer oor julle groot verlies. Op 14 Desember 1980 het ons julle pad begin stap toe ons 3 jarige seuntjie verdrink het. Die pad vorentoe was lánk en báie swaar. Maklik was dit nie. Maar al voel dit nou ondenkbaar, kom daar met die tyd tog genesing en vrede. Tot dan, weet dat julle as gesin en familie in my gedagte en gebede is. Soveel liefde vir julle.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief