MPUMALANGA. – Nkosingiphile Ntiwane (3) van Mshadza Trust in Masoyi het op 20 Julie spoorloos vermis geraak. Die polisie het die publiek versoek om kalm te bly en die polisie kans te gee om die kleuterseun se verdwyning te ondersoek.
Brig. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die oproep tot kalmte volg nadat gewelddadige betogings sedert Woensdagaand tot Donderdag in die vroeë oggendure op die R38 voorgekom het. Betogers het onder meer klippe na die Masoyi-polisiekantoor gegooi en ’n polisievoertuig beskadig. Hulle het ook die inhegtenisneming van die vermiste kleuter se ma geëis en gedreig om sy familie se huis aan die brand te steek. Weens die gespanne situasie moes die gesin na ‘n veiliger plek verskuif word om hulle lewens te beskerm.
Mdhluli bevestig die openbare orde-polisiëringseenhede is in die gebied ontplooi om die situasie te stabiliseer. Sigbare polisiëring is in en om die geboed verhoog en alle beskikbare hulpbronne is ingespan om na die kleuter te help soek. Sedert die aanmelding van die vermiste kind het GKS leiding geneem en saam met soek-en-reddingspanne en die honde-eenheid na hom gesoek. Tot dusver is die kind nog nie gevind nie, maar die soektog duur voort.





