KWAZULU-NATAL. – ‘n Kleutermeisie (4) het Woensdagaand tydens ‘n kop-aan-kop-botsing in Richmondweg naby Traffordweg in die Westmead-gebied van Pinetown gesterf.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens is kort ná 18:00 na die ongelukstoneel waar twee ernstig beskadigde voertuie aangetref is, asook twee mense wat vasgekeer was. Die diens het saam met die Ethekweni-brandweer en Redline Response Rescue reddingskake en ander hidrouliese toerusting gebruik om die slagoffers te bevry.
’n Gesin van vier, insluitend twee jong meisies van sowat vier en ses jaar oud, was in een van die voertuie. Die vierjarige het meervoudige beserings opgedoen en is op die toneel oorlede. Die oorblywende gesinslede is ernstig beseer en is, nadat hulle op die toneel gestabiliseer is, na nabygeleë hospitale vervoer.
Die bestuurder van die tweede voertuig het matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hy na ’n hospitaal vervoer is. Hy was alleen in die motor.
Die oorsake van die botsing is nog onbekend. Die polisie was teenwoordig en sal verdere ondersoek instel.