Brekende Nuus
Nuus

Knysna-polisiesersant help baba veilig in wêreld bring

Foto: SAPD

WES-KAAP. – Sers. Jo-Ann Benn van die Knysna-polisie het Sondag in die vroeë oggendure ’n ma gehelp om haar dogtertjie veilig in White Location in Knysna in die wêreld te bring.

AO Christopher Spies, Knysna-polisiewoordvoerder, sê Benn en haar kollegas was omstreeks 02:20 op misdaadvoorkomingspatrollie toe ’n bekommerde vrou hulle voorgekeer het en om hulp gevra het. Haar dogter was reeds in kraam en het dringend hulp nodig gehad. Benn het haar na die huis vergesel en die ma deur die geboorte begelei totdat nooddienspersoneel opgedaag het.

Die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Knysna sê Benn het die ma kalm stap vir stap deur die geboorte gelei en die babadogtertjie die naam Nolitha gegee. Die ma en baba is veilig aan paramedici oorgegee en is later uit die hospitaal ontslaan. Knysna se polisiebestuur en die GPF het Benn bedank omdat sy volgens hulle meer as haar normale pligte gedoen het.