OOS-KAAP. – Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, is vol vertroue die polisie volg ‘n positiewe leidraad, nadat ses gemeenskapspatrolleerders buite Mthata doodgeskiet is.
Maj.genl. Nonkululeko Phokane sê die nasionale kommissaris het Maandagmiddag die misdaadtoneel by Lugongozo Senior Secondary School in Tina Falls / Godini, besoek.
“‘n Span gespesialiseerde speurders is warm op die hakke van die verdagtes wat in verband met die moord op ses gemeenskapspatrolleerders en die poging tot moord op die vier wat beserings opgedoen het, gesoek word.
“Die ondersoek duur voort en arrestasies is op hande in hierdie verband; aangesien die leidrade na voortdurende veediefstalverwante sake tussen die geaffekteerde dorpie en ander naburige dorpe wys,” sê Masemola.
Masemola het ‘n groep gemeenskapspatrolleerders wat buite die misdaadtoneel kamp, toegespreek. Sommige van die wat teenwoordig was, het die massa-skietery van Sondagaand oorleef.
Nuusflits het voorheen soos volg berig.
Die polisie het ‘n mannejag geloods nadat ses gemeenskapspatrolleerders Sondagaand in ‘n lokval doodgeskiet is. Nog vier is geskiet en gewond.





