GAUTENG. – ‘n Konstabel (29) verbonde aan Cullinan- sigbare polisiëring, is in hegtenis geneem op aanklag van verkragting van ‘n meisie (17) op 3 Augustus.
Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder, sê in ‘n verklaring daar word beweer die polisiebeampte is ‘n vriend van die tienermeisie se broer en het haar by die huis gaan haal om iewers te ontspan (chill). Die polisiebeampte het glo aggressief geraak en die tiener met ‘n vuurwapen gedreig. Hy het blykbaar lukraak skote geskiet om aan die tiener te wys die vuurwapen kan werklik skiet en het gedreig om dit te gebruik indien sy nie aan sy eise voldoen nie. Die beampte het toe glo met haar na sy huis gery waar hy haar verkrag het, voordat hy haar by ‘n winkel naby haar huis afgelaai het.
Nadat die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat die ondersoek oorgeneem het, is die konstabel op 7 Augustus in hegtenis geneem en het die volgende dag vir die eerste keer in die Cullinan-landdroshof voorgekom. Die aansoek om borgsaak is na 13 Augustus uitgestel, maar dit kon nie afgehandel word nie en is weer tot 18 Augustus uitgestel. Die polisielid bly in aanhouding.





