*PERSVERKLARING
Beloftes dat daar teen 2025 meer skole in die verafgeleë plattelandse dorpies in Ga-Segonyana sal wees, lyk onwaarskynlik, aangesien die provinsiale regering versuim om in sogenaamde prioriteitsgebiede op te tree. ‘n Oorsiginspeksie wat ek en plaaslike DA-raadslid Koketso Paul verlede week aan die konstruksieterrein van die Laerskool Magojaneng onderneem het, het dit bevestig.
Volgens die Noord-Kaapse onderwysdepartement se jaarbeplanning vir 2023/2024 is die totale projekkoste vir die bou van Laerskool Magojaneng R85,654 miljoen. Die projek het verder ‘n begindatum van 15 Januarie 2023 met ‘n verwagte voltooiingsdatum geskeduleer vir 8 Julie 2024.
Dr. Isak Fritz, LPW – DA Noord-Kaapse premierskandidaat het gesê: “Konstruksie het egter vier maande gelede tot stilstand gekom. Halfgeboude strukture, wat die regering reeds miljoene rande gekos het, word aan die weer blootgestel. Dit is jammer, aangesien meer leerfasiliteite in die John Taole Gaetsewe-distrik broodnodig is. ‘n Toestroming in leergetalle is voorheen hier aangemeld.”
“Staatsbefondsde leerdervervoer is ook nie in Magojaneng vir leerders beskibaar nie. Sukkelende ouers, wat nie kan tred hou met taxitariewe nie om hul kinders na skole in omliggende dorpe te vervoer nie, is teleurgesteld oor hul kinders se opvoeding. Dit raak al hoe duideliker dat die skool nie binnekort in werking sal wees nie.”
“Luidens ’n onlangse aankondiging deur ’n plaaslike ANC-raadslid het die projek tot stilstand gekom weens wanbetaling van die kontrakteur. Soortgelyke scenario’s het by die konstruksieterreine van skole in Bankhara en Promise Land ook voorgekom.”
“Verdere vertragings kan ‘n verlenging van die boukontrak noodsaak of selfs die aanstelling van ‘n nuwe kontrakteur om die skole te voltooi. Dit kan ook die vervanging van sekere boumateriaal noodsaak en met stygende bou-inflasie kan dit ook aanleiding gee tot bykomende kostes.”
“Die ouditeur-generaal het voorheen bevind dat die departementele program verantwoordelik vir infrastruktuurontwikkeling slegs 20% van hul teikens voltooi het, al is 102% van die begroting bestee. Boonop is slegs 28 uit ‘n geteikende 69 geskeduleerde instandhoudingsprojekte by skole voltooi. Dit wys dat swak infrastruktuurbestuur kinders regoor die provinsie van ‘n geskikte opvoedkundige omgewing ontneem.”
“As dit is hoe provinsiale regering projekte hanteer wat as prioriteite vir die distriksontwikkelingsmodel geïdentifiseer is, dan is dit duidelik dat die ANC-regering nie ernstig is oor onderwys of selfs sy eie projekte nie.”
“Die DA sal met die departemente van onderwys en paaie en openbare werke opvolg oor die lot van die skole.”
“Kinders van regoor die Noord-Kaap verdien toegang tot onderwys van goeie gehalte. Dít sal eers realiseer met ‘n stem vir ‘n DA-geankerde regering in 2024.”
*PERSVERKLARING
*HIERDIE PERSVERKLARING IS BETAAL DEUR DIE GENOEMDE POLITIEKE PARTY





