KWAZULU-NATAL. – ‘n Groep konstruksiewerkers het verskeie beserings opgedoen toe ‘n vragmotor Vrydag op die N3 in ‘n suidelike rigting by Town Hill, in Pietermaritzburg, in hulle vasgery het.
Roland Robertson van Midlands EMS sê verskeie beseerdes is op die toneel deur nooddienste en gevorderde lewensondersteunende paramedici behandel. Sommige van die beseerdes was vasgekeer en ‘n gespesialiseerde reddingsoperasie is onderneem om hulle te bevry. Hulle is daarna na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem.
Owerhede ondersoek die oorsaak van die ongeluk.