VRYSTAAT. – ‘n Kontantroof is Woensdag in Betlehem by ‘n kontantvervoer-depot gefnuik toe werknemers opgemerk het die voertuig wat opgedaag het, is nie dié van die maatskappy nie.
Kapt. Loraine Earle sê in merkwaardige samewerking tussen verskeie eenhede van die polisie en ander rolspelers is ‘n kontantroof gefnuik en vier verdagtes in hegtenis geneem. ‘n Vreemde pantservoertuig met kentekens het omstreeks 10:00 opgedaag en die polisie is dadelik ontbied.
“Met konstante kommunikasie en met maksimum ontplooiing van hulpbronne vanaf SAPD-eenhede en van die private maatskappy self, aangevul deur lede van TRT, die sigbare polisiëringseenheid en speurders, is die roof gefnuik.”
Vier verdagtes tussen 43 en 52 jaar oud is gearresteer.
Lt.genl. Baile Motswenyane, die Vrystaatse provinsiale polisiekommissaris, sê: “Hierdie suksesvolle operasie is ‘n getuienis van die uitsonderlike samewerking tussen ons verskillende eenhede en ander belanghebbendes. Die vinnige reaksie het nie net die roof verhoed nie, maar ook die veiligheid van die gemeenskap verseker. Dit is presies om hierdie rede dat medewerking en gesonde werksverhoudinge tot stand gebring is om die samewerking tussen die polisie en die private sektor te verbeter om kontant-in-transito-voorvalle te beperk.”
Earle sê die insident word deur die Valke ondersoek.





