LIMPOPO. – ‘n Konvooi van vyf voertuie is Vrydag met meer as R1 m. onwettige sigarette onderskep. Een van die voertuie was in ‘n noodlottige ongeluk betrokke.
Brig. Hlulani Mashaba sê die provinsiale blitspatrollie het die konvooi op die R519-Bergenek-pad opgemerk. ‘n Hoëspoedjaagtog het in die rigting van Zebediela ontstaan toe ‘n swart Jeep van Polokwane af nie stilgehou het nie, teen ‘n vragmotor gebots, gerol en die bestuurder, ‘n buitelander, op die toneel gesterf het. Die vragmotorbestuurder is met beserings na ‘n plaaslike hospitaal geneem.
Mashaba sê nog twee verdagtes, van wie nog een ‘n buitelander, wat in ‘n Toyota Rav 4 voorgekeer is, is ook in hegtenis geneem. Nog ‘n buitelander is in ‘n wit Ford Ranger aangekeer. In al die voertuie was onwettige sigarette. Nog twee voertuie, ‘n wit Mercedes-Benz en ‘n grys Ford Ranger, is in Bergenek-woonbuurt in Westenburg, waar onwettige sigarette ingelaai is, onderskep.
“‘n Onbekende aantal verdagtes het van die toneel gevlug.”
Al die voertuie is gekonfiskeer en die polisie het sake van strafbare manslag en die besit en vervoer van onwettige sigarette geopen.
“Die identiteit van die oorledene is nog onbekend.”
Mashaba sê die drie verdagtes sal na verwagting Maandag in die Magate-landdroshof verskyn.







