GAUTENG. – Die korrupsie-en-bedrogsaak teen Thabang Makwetla, die voormalige adjunkminister van korrektiewe dienste, is vandag (Vrydag) in die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof tot 19 Maart 2027 uitgestel.
Volgens Henry Mamothame, NVG Idac-woordvoerder, hou die saak verband met ‘n beweerde veiligheidsopgradering ter waarde van ongeveer R350 000 aan Makwetla se woning deur Bosasa in 2015. Hy word daarvan beskuldig dat hy dié wesenlike voordeel nie oor ’n tydperk van vier jaar aan die Parlement verklaar het nie, soos wat deur die Parlement se etiese gedragskode en openbaarmakingsvereistes vir lede voorgeskryf word.
Mamothame sê die saak is uitgestel sodat ’n sentraliseringsertifikaat uitgereik en ’n datum vir die verhoor in die hooggeregshof bepaal kan word. Die aanklaer het ook aan die hof bevestig dat die saak deur die hersieningspaneel beoordeel is wat tans alle Idac-sake ondersoek. Die paneel het bevestig dat die saak behoorlik gemagtig is en binne Idac se mandaat val.
Die hof is verder meegedeel dat alle openbaarmakings reeds aan Makwetla verskaf is om hom vir die verhoor voor te berei. Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede (Precca) en bedrog.