BRITS, NOORDWES. – Inwoners moes Donderdagaand twee keer kyk om te sien of dit regtig krokodille op die R511 buite Brits is. AfriForum Buurtwag het omstreeks 22:30 ’n oproep van ’n motoris oor ’n krokodil in die middel van die pad ontvang.
Critter Chronicles, ’n plaaslike groep wat gereeld na insidente met reptiele ontbied word, is ook na die toneel. Volgens Jac-Louis Horn van Critter Chronicles was daar altesaam agt krokodille in en langs die pad. Hy het nie ’n span na die toneel geneem nie omdat hy aanvanklik net een krokodil verwag het. “Die krokodille was groot, tussen twee tot drie meter.” Hulle het ‘n video van die ervaring gedeel.
Hulle kon daarin slaag om al agt krokodille terug na ’n nabygeleë krokodilplaas te neem. Daar was glo ’n gat in die draad geknip waardeur die reptiele ontsnap het.
Die krokodille is met toue terug na die plaas wat skaars 200 m weg was, gelei. Volgens Horn beklemtoon die gebeurtenis die belangrikheid van wildbewaring en die onverwagte uitdagings wat daarmee gepaardgaan.
Bronne: Critter Chronicles Facebook-bladsy, AfriForum Buurtwag-Brits, Kormorant





