Brekende Nuus
Nuus

11 dood en 3 beseer in massaskietery

Foto's: SAPD

KWAZULU-NATAL. – Elf mense is dood en drie ander is beseer nadat gewapende verdagtes Dinsdagaand by ’n huis in die Ziko-gebied by KwaMakhutha, suid van Durban, ingestorm en op mense in die huis losgebrand het. Die polisie het ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur, terwyl ’n 72-uur-soekoperasie geaktiveer is. Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, sê ’n belowende leidraad word ondersoek wat moontlik tot ’n deurbraak in die ondersoek kan lei.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê voorlopige inligting dui daarop dat 13 mans en ’n vrou, wat vermoedelik swanger was, ’n partytjie in die huis gehou het toe drie mans opgedaag en begin skiet het. 10 slagoffers is op die toneel dood en vier is hospitaal toe geneem, waar een later aan sy skietwonde beswyk het. 

Voorlopige ondersoekwerk het ook aan die lig gebring dat sommige van die slagoffers op misdaadintelligensie se radar was in verband met beweerde onwettige bedrywighede. Die polisie kan nog nie besonderhede hieroor bekend maak nie, omdat dit die voortgesette ondersoek kan benadeel. Die motief is nog nie vasgestel nie, maar konflik tussen mededingende groepe kan nie uitgesluit word nie.

Genl. Dimpane het haar kommer oor die verlies aan lewens uitgespreek en haar medelye aan die families van die oorledenes betuig. Sy het polisiebeamptes opdrag gegee om alle beskikbare hulpbronne te mobiliseer en diegene wat vir die skietery verantwoordelik is, op te spoor en in hegtenis te neem. Die polisie doen ’n beroep op gemeenskapslede met betroubare inligting om hulle te kontak.