LIMPOPO. – Een persoon is dood en 109 skoolleerlinge het geringe beserings opgedoen in ‘n ongeluk tussen ’n Toyota Hilux en ’n Volkswagen-bus wat leerlinge vervoer het. Die ongeluk het Donderdagoggend kort ná 06:00 op die R510 tussen Thabazimbi en Northam, naby die Amandelbultmyn in die Waterberg-distrik, plaasgevind.
Luidens ’n mediaverklaring deur die Limpopo-departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid het die bestuurder (58) van die Toyota Hilux glo verbygesteek en trompop met die Volkswagen-bus gebots. Die bestuurder van die Hilux is noodlottig beseer. Altesaam 109 leerders het geringe beserings opgedoen en is vir behandeling na hospitale geneem.
Die departement sê 103 leerlinge is na die Thabazimbi Provinsiale Hospitaal vervoer, terwyl ses na die Amandelbult-mynhospitaal geneem is. Die moontlike oorsaak van die ongeluk word aan roekelose bestuur toegeskryf.
’n Ondersoek na die voorval duur volgens die departement voort.





