KWAZULU-NATAL. – Drie mense is vanoggend (Vrydag) kort ná 09:15 dood verklaar ná ’n botsing tussen ’n vragmotor en ’n bakkie op die N3 Durban-rigting voor die Shongweni-afrit.
Volgens Garrith Jamieson van ALS Paramedics het die bestuurder van ’n vragmotor beheer verloor, oor die middelman beweeg, die noordelike rybaan gekruis en met ‘n bakkie gebots voordat dit onder teen ‘n wal tot stilstand gekom het. Die bakkie het teen versperrings beland waar padwerkers besig was en het aan die brand geslaan.
“Met ons aankoms was die bakkie in vlamme en die toneel chaoties,” sê Jamieson. Die eThekwini-brandweer is ontbied om die brand te blus.
Die vragmotorbestuurder het matige beserings opgedoen, terwyl vier padwerkers verskeie beserings opgedoen het. Hulle is op die toneel gestabiliseer en na ’n nabygeleë hospitaal vervoer. Drie insittendes van die bakkie het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Die N3 in die rigting van Durban is gesluit. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Padverkeersinspektoraat ondersoek die oorsaak van die botsing.

