WES-KAAP. – Altesaam 700 nuwe metropolisiebeamptes wat tans by Stad Kaapstad se kollege in Observatory in hul finale opleidingsfase is, sal teen die lente in Kaapstad ontplooi word. Burgemeester Geordin Hill-Lewis en raadslid JP Smith het dié beamptes Donderdag besoek.
Lyndon Khan, burgemeesterswoordvoerder, sê in ‘n verklaring die beamptes het vir 18 maande lank opleiding gekry in onder meer verkeer, vuuwapenbevoegdheid, taktiese en bewysgebaseerde polisiëring en burgerakademie. Die beamptes is verder met die Stad se gevorderde vuurwapensimulator opgelei en sal met liggaamskameras en digitale toestelle (EPIC) toegerus wees. Volgens Smith sal beamptes ook diensleweringspanne in gevaarlike gebiede begelei en sal die N2-hoofweg spesiale polisieteenwoordigheid kry.
“Teen die lente sal elke wyk vir die eerste keer sy eie toegewyde buurtbeamptes hê. Hierdie beamptes sal die gemeenskappe leer ken en vertroue opbou vir beter veiligheid,” het Hill-Lewis gesê.
Die Stad Kaapstad het sedert 2021 meer as 1 100 nuwe beamptes ontplooi en R800 miljoen in tegnologie vir slimmer polisiewerk belê.





