GAUTENG. – Inwoners van Springs kla oor ‘n aanhoudende skietery in die lug wat sedert Sondagaand in die gebied plaasvind en groot kommer in die gemeenskap veroorsaak.
Volgens betroubare bronne word daar daagliks ná 19:00 in die openbaar geskiet, met verskeie sarsies skote wat gehoor word. Inwoners vrees dat koeëls wat in die lug afgevuur word, onskuldige mense kan tref wanneer dit grond toe val. Verskeie klagtes is by die plaaslike polisiekantoor aangemeld, maar inwoners beweer daar word nie met die nodige erns opgetree nie.
Gemeenskapslede sê die skietery kom glo van wonings in die area waar familielede van die oorlede LUR, Andile Mngwevu woon. Die skietery word volgens hulle onderbreek wanneer voertuie verbyry en hervat sodra dit stil raak. Donderdagaand is weer veelvuldige skote gehoor, wat volgens inwoners klink asof dit van ’n aanvalsgeweer afkomstig is.
Die skietery vind glo hoofsaaklik in Nigel- en Knechtweg plaas, met harde musiek en lawaai wat die situasie verder vererger. Inwoners sê hul grootste vrees is dat iemand ernstig beseer of doodgeskiet kan word.
‘n Gedenkdiens vir die oorlede LUR, Andile Mngwevu, het Donderdag by die KwaThema-gemeenskapsaal plaasgevind. Saterdag sal ‘n begrafnisdiens vanaf 09:00 by die KwaThema-stadion plaasvind, voordat hy by die Nokuthula Memorial Park in Brakpan ter ruste gelê word.
Nuusflits het kommentaar van die polisie en die Stad Ekurhuleni aangevra.





