POTCHEFSTROOM, NOORDWES. – ’n Senior LLB-student aan die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus is tydelik geskors nadat hy Dinsdag 6 Februarie na bewering opgestaan en sy mening rakende vryheid van spraak tydens ’n oriënteringsessie uitgespreek het.
Shaun Christie, ’n finalejaar-regstudent het glo openlik beswaar teen besprekingspunte tydens ’n NWU-goedgekeurde sessie vir die nuwe eerstejaarstudente in die amfiteater gemaak. Volgens die NWU het agendapunte psigiese fiksheid, gestremdes se regte, LGBTQIA+ -gemeenskapsake en bewustheid van omgewingsvolhoubaarheid ingesluit.
Volgens AfriForum Jeug het Christie “kritiek gelewer en aangevoer dat studente nie veilig voel om oor Christenskap te praat nie, maar dat gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word.”
NWU se verklaring lui dat die senior student tydens die sessie opgestaan en na die voorkant van die verhoog beweeg het en luidkeels sy ontevredenheid met die genderkwessies op die agenda te kenne gegee het. Volgens hulle was dit op ’n ontwrigtende wyse gedoen. Verskeie eerstejaarsgroepe het daarna glo opgestaan en uit die sessie geloop.
AfriForum het Vrydag aangekondig dat hulle regspan die moontlikheid van regstappe ondersoek nadat Christie tydelik geskors is. “Volgens inligting is die student vanweë disprespekvolle optrede geskors. Sy skorsing behels onder meer dat hy nie die kampus mag betree of gebruik maak van enige fasiliteite nie. Hy mag ook nie deelneem aan enige akademiese verrigtinge of geregtig wees op enige regte waarop ’n NWU-studente gewoonlik mag aanspraak maak nie.”
Volgens Ronald Peters, woordvoerder van AfriForum Jeug, het Christie geen ander student se regte geskend nie, maar sy reg tot vryheid van spraak is ontneem.
Die ACPD- politieke party het sedertdien aangekondig dat hulle bankvas agter Christie staan.
Kyk hier na ’n video van die voorval:
AfriForum se verklaring:
NWU se verklaring:
Bronne: NWU, AfriForum Jeug