WES-KAAP. – ‘n Boggelrugwalvis wat onlangs op ‘n vragmotor deur Constantia vervoer is, het motoriste verstom.
Spencer Oldham, NSRI-bevelvoerder van Houtbaai, sê diensbemanning het Saterdag Stad Kaapstad saam met ander rolspelers, wat die Manine Animal Stranding Network insluit, gehelp met ‘n boggelrugwalvis wat op die strand by Slangkop-vuurtoring, Kommetjie, uitgespoel het.
Die NSRI-reddingstuie, die Albie Matthews en Nadine Gordimer, is ingespan om die walviskarkas na Houtbaai-hawe te sleep. Nog dolfyne het tydens die insleepoperasie aangesluit.
Die karkas is Sondag met toegang tot die glybaan deur die afdeling vir vaste afvalbestuur, bygestaan deur wetstoepassers van die Stad Kaapstad, die SAPD en Kaapstad-verkeersdepartement, verwyder.
Volgens SA Trucker is die boggelrugwalvis 14.8 m lank en weeg ongeveer 35 ton. Die karkas is na die Vissershok-stortingsterrein geneem.





