KYK: Brand vernietig 11 klaskamers by skool

Lees ook :

Foto: EK FM 103.6 Newsroom

GAUTENG. – ‘n Brand by Hoërskool Riverlea, wat 230 leerlinge raak, het Sondagaand 11 klaskamers vernietig.

Kol. Mavela Masondo bevestig die polisie het ‘n saak van brandstigting oopgemaak.

“’n Span senior speurders, wat lede van die Forensiese Wetenskaplike Laboratorium (FWL) insluit, is saamgestel om die saak te ondersoek en om die persoon of persone verantwoordelik vir die brand by die skool op te spoor.”

Enigiemand met relevante inligting word gevra om kapt. Merinah Netshidzati by 071 675 6155 te bel.

Steve Mabona, woordvoerder vir die departement van onderwys in die provinsie, sê volgens voorlopige verslae het die brand omstreeks 18:00 op 27 April in ‘n ongebruikte klaskamer begin en vinnig versprei. Die brand het tot vernietiging van ‘n hele blok bestaande uit 11 klaskamers gelei. Al die klaskamers en meubels is vernietig. Vier van die klaskamers is deur gr. 8-leerlinge gebruik, terwyl die res in onbruik was. Die seuns se toiletblok, wat alle seunsleerlinge by die skool raak, is ook totaal vernietig. Die departement werk dringend daaraan om te verseker dat onderrig op Maandag 5 Mei 2025 met die minimum ontwrigting sal voortgaan. ’n Tydelike plan is ingestel om leerlinge in die skoolsaal te akkommodeer, terwyl reëlings vir die aflewering van vier volledig toegeruste mobiele klaskamers gefinaliseer word.

Mabona bevestig die res van die skool se infrastruktuur is ongedeerd en onderrig vir ander grade sal sonder noemenswaardige probleme voortgaan. Ongeveer 230 leerlinge is direk deur die brand geraak en alle pogings word aangewend om die situasie spoedig te normaliseer.

“Ons veroordeel hierdie sinnelose daad van vernietiging in die sterkste terme. ‘n Aanval op ‘n skool is ‘n aanval op die toekoms van ons land, en dade van hierdie aard moet met die uiterste erns hanteer word. Ons doen ‘n beroep op enigiemand wat inligting oor hierdie voorval het om wetstoepassingsowerhede in hul ondersoek by te staan. Ons bly daartoe verbind om die Hoërskool Riverlea-gemeenskap te ondersteun en sal verdere inligting soos die situasie ontwikkel beskikbaar maak,” het Matome Chiloane, die LUR van die onderwysdepartement, gesê.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief