NOORD-KAAP. – ‘n Bus het vanoggend omstreeks 04:30 op die N1 tussen Richmond en Hanover gerol. ‘n Minibus het boonop agter in ‘n ambulans op die toneel vasgery.
Lt.kol. Sergio Kock sê Richmond-polisie ondersoek die ongeluk waartydens 20 buspassasiers geringe tot ernstige beserings opgedoen het. Die beseerdes is vir verdere mediese behandeling na plaaslike hospitale op Hanover en De Aar geneem.
Omstreeks 09:00 het ‘n Toyota Quantum boonop in ‘n ambulans wat na die toneel gestuur is, vasgery. Die vroulike ambulansbestuurder is beseer, terwyl haar manlike assistent ongedeerd is. Beide die mans in die Quantum het ligte beserings opgedoen.
Die oorsaak van die ongelukke word ondersoek. Enigiemand met inligting word versoek om speur.konst. Rodney Julies by 082 302 0371 te bel.





