Appel, oftewel Christoph Kotze, die sanger en liedjieskrywer, het die eerste enkelsnit, Die Boer Hier Binne My, bekendgestel van sy 5-snit kortspeler, Genisis, wat op pad is. Die liedjie is volgens hom ’n eerlike, grondvaste stuk musiek wat die huidige tydsgees aanspreek.
“Dis die hartklop van die hele EP. Stil, eerlik en vol waarheid. Dit som presies op waar ek is – as mens, pa en kunstenaar. Ek dink mense het in hierdie stadium minder behoefte aan geraas en meer aan egtheid,” sê Appel.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê in ‘n verklaring hoewel die EP grootliks getrou bly aan Appel se bekende styl, sluit dit ook liedjies soos Alice, ’n 80’s rock-geïnspireerde snit in. “Alice bring balans. Sy herinner my daaraan dat die lewe nie net gebed en swaar is nie, dis ook energie, chaos, en musiek wat mag uitskiet,” sê Appel.
Genesis beloof om dieper te gaan as net melodie. Dis ’n projek wat streef na emosionele egtheid en wil eer bring aan mense se alledaagse stryd én hoop. Die inspirasie vir die vrystelling het ontstaan uit gesprekke met boere en werkende mense regoor Suid-Afrika. Lukas 10:2 het hom in dié konteks diep geraak: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min.” Hy sê dié vers, wat ook in Mattheus 9:37 voorkom, het vir hom praktiese sowel as geestelike betekenis.
“Ek het daai vers gelees en iets het my getref. Dis nie net ’n geestelike beeld nie – dis ook prakties. Dis ek. Dis mense wat opdaag, selfs al is hulle moeg. Dis ’n huldeblyk aan hulle,” sê hy. Hy beskryf hoe sy eie agtergrond hom beïnvloed het: “Ek het grootgeword in ’n huis waar dit gedruis het van kinders, oumense, geselskap en lewe. Mense wat gelag het, gepraat het en ook swaar gedra het. Hierdie lied is gebore uit daardie mengsel – van werklikheid, harde werk en geloof.
“Die Boer Hier Binne My is nie ’n gesofistikeerde poging om te beïndruk nie. Dis ’n liedjie wat probeer herinner – aan eenvoud, aan roeping, en aan mense wat bly staan. Ek hoop dit bring rus. Ek hoop iemand voel minder alleen. En ek hoop dit herinner mense dat hulle saaiwerk nie tevergeefs is nie,” sê Appel oor die lied se styl.
Nel sê die musiekvideo, waarin boere in koue oggendlig en reëntonele uitgebeeld word, is op plaasgrond net buite Pretoria deur Christiaan Wolf opgeneem. “Christiaan verstaan gevoel. Die portrette van die boere sê meer as wat ek ooit sou kon. Dit was belangrik vir ons om nie iets te speel nie – maar iets regtig te wys,” sê Appel.
Die projek is met trots ondersteun deur Case IH en Laeveld Agrochem, twee organisasies wat die hart van landbou verstaan en self elke dag tussen boere werk.
Met Die Boer Hier Binne My as eerste enkelsnit, word dit duidelik: Hier’s nie net musiek op pad nie hier’s ’n boodskap.
Druk hier om Die Boer Hier Binne My op alle stromingsdienste te kry.





