Chris Steyn, beter bekend as Plakkies, het sy jongste enkelsnit Ek Kannie op alle digitale stroomdienste bekend gestel.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê dié vrolike kuierliedjie is deur Steyn self saam met Georic Lomas, Marco van Deventer en Bella geskryf. Dit is ’n tong-in-die-kies huldeblyk aan “die Afrikaanse man wat gebore is met twee linkervoete.”
“Dié liedjie gaan oor ’n Afrikaner wat alles kan doen, van trekker ry tot werk aanpak, maar wanneer dit by dans kom, is hy heeltemal verlore,” sê Steyn. “Ek hoop die publiek gaan dit geniet, lekker sokkie en kuier en dat dié van ons wat weet ons kan nie dans nie lekker sal lag oor die lirieke. Wie weet, dalk kry dit selfs party van hulle op die dansvloer!”
Die musiekvideo vir Ek Kannie is onlangs deur Eric T Graham en Tehan Buys by Hanger47 in Centurion verfilm. Dit is dieselfde behendige span wat ook Helemal se musiekvideo behartig het. “Die video is baie eenvoudig, net ek en my band wat agter op Cruisers staan en die liedjie lekker jam,” verduidelik Steyn.
Nel sê voorts met Ek Kannie bou Steyn verder aan sy reputasie as een van Afrikaans se mees vermaaklike kunstenaars.
Oor die toekoms sê Steyn: “Ek wil die volgende vyf jaar net die beste moontlike musiek vir my luisteraars bring. Dis vir my ’n ongelooflike voorreg om my passie vir musiek en reis elke dag te kan uitleef.”
Druk hier om Ek Kannie op alle stromingsdienste te kry.





