Clair Aucamp, die gr. 7-leerder wat 10 dae gelede by Laerskool Mayville in Pretoria van ‘n hoogte geval en die Saterdag gesterf het, is gister finaal by die skool gegroet.
Clair se ouers en broer het gedurende die hartroerende gedenkdiens van haar afskeid geneem. Ouboet Gareth Aucamp (17), wat chemoterapie vir leukemie, ter voorbereiding van ‘n beenmurgoorplanting, ontvang, het treffend van sy suster gepraat. Gareth het onthou hoe Clair ‘n keerpunt gebring het sodat hy tydens sy siekwees moes opstaan en hy sê ook hy dink sy is beskerm van hoërskool toe gaan. Met ‘n lag by die traan het hy onthou hoe sy met ‘n truuk geld uit hom probeer kry het om hom en ander te bederf.
Na die diens is rose op Clair se kis geplaas. Met die wegry van die lykswa is blou ballonne die lug ingestuur.
Tydens die bedankings is spesiale vermelding gemaak van onder meer Pat Smit, ‘n legende in die area, sielkundiges en Xander Loubser, ‘n Netcare 911-lugambulans-paramedikus en sy span.
Loubser, wat ‘n seun in die skool het, het na die voorval die volgende op sosiale media gesê:
‘n Hartseer wolk het nie net oor ons kom rus as paramediese personeel nie, maar as mede-ouers, kollegas en vriende ook. Die storie van die jonge lewe wat té vroeg tot ‘n einde gekom het, sal my nog jare volg. Ons dink aan die ouers, familie en kinders wat geraak is. Dankie aan Fransua en die hele span by Best Care Emergency Medical Service wat julle alles gegee het. Spesiaal dankie aan Simone wat die pad van rou en seer aanhou stap saam met die mense wat agterbly.
Saterdag het Loubser se seun ‘n foto van hom en sy span by Clair se stoel van herdenking en boom wat by Laerskool Mayville opgerig is, geneem en sê: “‘n Foto van ons span by Clair se herdenkingstoel en boom, geneem deur Marcéllie. Ek kyk na die tyd na die foto (soos ons almal mos maar doen om te kyk of die kinders die foto reg neem) en ek sien dié foto. Hy het ‘n paar geneem, almal is so. Ek laat my nie vertel die ‘flare’ van die sonlig is net toevallig so nie. Ek neem toe ‘n paar foto’s (kyk in die kommentare vir die skermskoot) en met elke foto wat ek probeer neem het, maak hy nogsteeds so. Ek probeer my foon kantel en draai van alle kante af, dit bly so, ongeag. Stomgeslaan roep ek vir almal om te kom kyk. ‘n Skerp wit straal vanaf bo, afgerond met ‘n goue glans van links na regs oor die stoel. Die foto’s is oorspronklik en nie gemanipuleer nie. Dalk kyk ek te diep daarin, maar ek vat hierdie as ‘n boodskap, letterlik van Bo!”
Volgens AO Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, is ‘n geregtelike doodsondersoek deur Wonderboompoort-polisiestasie geopen, wat ondersoek word.

Foto: Xander Loubser

Foto: Xander Loubser

Foto: Skermgreep van gedenkdiens

Foto: Skermgreep van gedenkdiens

Foto: Skermgreep van gedenkdiens





