GAUTENG. – Noodmaatreëls is ingestel ná die tydelike sluiting van die Masakhane CookFreeze-aanleg, wat hospitale in die provinsie van voorbereide maaltye voorsien. Die aanleg is gesluit nadat Tshwane-stadinspekteurs gedurende inspeksies in Oktober e.coli-besmetting in munisipale water opgespoor het.
Nomantu Nkomo-Ralehoko, die Gautengse LUR vir gesondheid en welstand, het noodmaatreëls aangekondig. Volgens die departement is daar geen voedseltekorte by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal nie en pasiënte ontvang steeds drie maaltye per dag. Hospitale het hul eie voedselspanne ingespan om etes voor te berei, en geen siektegevalle is aangemeld nie. Die aanleg word tans deeglik skoongemaak, ’n watersuiweringstelsel word geïnstalleer en personeelopleiding word verskerp.
Intussen het Jack Bloom, die DA se skaduminister vir gesondheid in Gauteng, in ‘n verklaring gesê pasiënte ly honger by die hospitaal nadat die CookFreeze-aanleg gesluit is. Hy het gesê sommige pasiënte het net brood vir middagete ontvang en familielede moes kos vir pasiënte hospitaal toe neem. Volgens Bloom het die probleem verskeie hospitale en gemeenskapsgesondheidsentrums geraak wat van die aanleg afhanklik is. Nadat klagtes ontvang is, is die hospitaal besoek. Bloom het onthul die Jubilee, Odi, Bronkhorstspruit en Tshwane- en Lenasia-distrikshospitale is deur die situasie geraak.
Die departement het geen tydlyn vir die heropening van die aanleg gegee nie, maar beklemtoon dat pasiëntvoeding voortduur en dat alternatiewe voorsiening gehandhaaf word.





