KYK: Demi Lee Moore en Eloff sê ‘As Ek Dalk’

Lees ook :

Foto: Hendri Viljoen Skoll Fotografie

Die goue stemme van Demi Lee Moore en Eloff kom tot hulle volle reg in hierdie nuutvrygestelde duet wat op ‘n strand van onthou en as-ek-dalk-anders-besluit-het afspeel.

Fanie Nel van Coleske Group sê die duet tussen twee van Suid-Afrika se grootste musiektalente is ‘n onverwagse, treffende kombinasie wat die musiekbedryf verras.

Demi het sedert sy Die Kontrak, seisoen 1 in 2018 gewen het, met treffers soos Mis Eet Slaap Herhaal, Kan Jou My Nie Maak Liefhê en Wie Se Hart Breek Jy Vanaand, haar voete netjies op die verhoë en in die harte van haar aanhangers staan gemaak.

Eloff het ook op sy beurt met treffers soos Johnnie Blou, Witblits, Koue Kole en Vlerke dadelik aandag in die musiekbedryf getrek.

“Die vakansietreffer is deur die talentvolle Emil Paul geskryf en verken die universele tema van spyt en die wens om sekere oomblikke in die verlede te kon verander. Emil het ook aan Hart Breek gewerk wat vir Demi ‘n Aitsa-toekenning vir die Meeste Stromings deur ‘n Vroulike Kunstenaar verower het.”

Nel sê die video-opname vir As Ek Dalk skep ‘n vakansiegevoel met die tema van verlange en herinneringe. Dit is deur Eric T Graham en Than Buys in die asemrowende Ponto do Ouro in Mosambiek verfilm. Die video skep ‘n vakansiegevoel met die tema van verlange en herinneringe. Dieselfde span het Hart Breek se video-opname verfilm wat met nog ‘n Aitsa-toekenning vir Musiekvideo van die Jaar bekroon is.

“Die liedjie vertel van daardie oomblikke wanneer jy wonder hoe dinge sou uitdraai as jy net een
ding anders gedoen het, soos om op die regte tyd totsiens te sê. Dis iets waarmee ons almal kan identifiseer,” sê Eloff.

“Ons almal het dinge waaroor ons spyt is. Dit klink na ‘n cliché, maar as ek eerlik is, sou ek sommige dinge in my lewe wél wou verander. Hierdie liedjie is ’n weerspieëling van daardie gevoel,” voeg Demi by.

Nel sluit af deur te sê: “Met As Ek Dalk bring Demi Lee Moore en Eloff hul onderskeie talente bymekaar in ’n kragtige samewerking wat luisteraars emosioneel sal roer.”

Kyk die video-opname hier bo of kry dit hier. As Ek Dalk is hier op alle stromingsdienste beskikbaar.




Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief